Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees. (Ps 118 : 24) ![]() Wat hou hierdie dag vir jou in? Waarna sien jy uit vir vandag? Is daar léwe in vandag? Ek maak 'n stelling, ons het die kuns verloor om vir vandag te lewe. Iemand noem vir my hierdie aanhaling: "Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a blessing." Hoe moeilik is dit nie vir ons arme mensdom om vandag voluit te leef nie. Ek het die vraag gevra: wat hou vandag vir jou in? Vir jou, as individu. Vir die meeste mense is dit of niks, of spanning, of harde werk, of sommer net 'n totale leegheid. So asof ons soms sommer net opgee om te leef. Sjoe, maar dit klink darem swaarmoedig en stroef, maar dis ongelukkig die realiteit. Ons as mense het die kuns verloor om te leef vir vandag, om uit te sien na môre en om dit wat tot 'n goeie vandag gelei het, te koester. As kind het ek altyd iets in my kop gehad wat lekker was om aan te dink, en altyd iets gehad waarna ek uitgesien het. Ek onthou ook as kind dat ek soms my ma gevra het, wat gaan "eendag" gebeur. "Eendag" was vir my iets misterieus wat voorgelê het. So leef ons ook vir eendag, en nie vir vandag nie. Carpe Diem - Gryp die dag. Moeilik om vandag voluit te leef. Ons leef maar almal vir môre, of iewers in die toekoms, en maak in alles voorsiening vir môre, i.p.v. vandag. Die makelaars vertel jou om soveel moontlik vandag opsy te sit vir môre. Op die ou end is ons almal meer werd dood as lewendig. So asof môre 'n uitgemaakte saak is... Hoe leef ons vir vandag?· Doen vandag iets sinvol of lekker, iets wat jy kan geniet. Drink koffie saam met jou lewensmaat.
· Neem dalk vandag daardie groot besluit. Dit wat jy moet doen om jou te laat losbreek van die bande van ongelukkigheid wat jou vashou. · Maak 'n afspraak om vir daardie vriend te gaan kuier wat jy lankal wou sien. · Bel vandag jou ma, pa, kind, broer, suster vir wie jy so lank opsy skuif. · Beplan meer vir vandag as die toekoms, want jy kom dalk nooit daarby uit nie. · Spandeer dalk so 'n paar rand op jouself, of bederf iemand anders. · Glimlag vir 'n slag. · Maak dalk vandag iets met iemand reg, wat jy lankal uitstel. · Laat vandag tel. Laat môre vir môre en gister in die verlede.
0 Comments
Leave a Reply. |
Gerrit VisserElke Woensdag lei Gerrit 'n oggend Bybelstudie by die kerk se hoofgebou. Dit word ook as 'n blog versprei en lewendig uitgesaai. Archives
February 2022
Categories |