Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.
MARKUS 10:13-16 AFR83 https://bible.com/bible/6/mrk.10.13-16.AFR83 Dis vir my interessant wat verskillende skrywers oor Jesus se lewe onthou van Jesus se lewe. Meeste van die verhale in Jesus se lewe word deur meer as een persoon neergeskryf. Daar is vier evangelies oor Jesus se lewe. Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Elkeen sien iets anders raak oor hoe Jesus belangrike lewenslesse vir hulle leer, hoe Jesus se finale dae op aarde afspeel, en ook oor hoe die wonderwerke verloop. Dit alles is die werk van die Here. Hierdie kort verhaaltjie is omtrent in alle kinderbybels. Die rede daarvoor het waarskynlik te make daarmee dat ons as volwassenes wil sien dat kinders welkom voel in die kerk. Hulle moet voel dat Jesus hulle lief het – Hulle moet dit weet. Jesus nooi hulle om deel te wees van die Koninkryk, en saam met dit ook ons. Om die waarheid te se ons moet soos hulle wees. Dis waarom dit waarskynlik baie moeilik is vir mense wat kinders nie ernstig opneem nie om Jesus te verstaan. Jesus is lief vir kinders, en tieners, en as dit vir jou moeilik is, gaan jy sukkel om Jesus in jou lewe te vind. Die verskillende evangeliste wat skryf oor Jesus se lewe, pas hierdie verhaal op verskillende plekke. In omtrent elke geval word dit gesien as ‘n verhaal wat ons elkeen moet bring tot inkeer en nederigheid. In een van die evangelies volg dit direk op die dissipels wat baklei met mekaar oor wie die belangrikste is. Maar hier in Markus staan daar vir my iets anders uit. Wanneer Markus die verhaal onthou, is die einde daarvan dat Jesus iets prakties doen. Nadat Hy die kindertjies seën, vra Hy nie dat hulle nou maar kan gaan nie. Hy roep nie hulle ouers met ‘n wuif van sy hand om hulle te kom haal vir aandete nie. Hy doen die teenoorgestelde. Hy hou hulle vas. Hy hou hulle in die oomblik. Miskien het jy vandag ook so ‘n oomblik nodig. Net ‘n oomblik waarin jy kan voel dat Jesus jou vashou. Dis my gebed dat jy dit in hierdie musiek beleef het. Ek weet nie wat jou omstandighede is nie. Ek weet nie eers wat die oplossings vir jou uitdagings is nie, maar ek weet die waarheid is dat Jesus mense in Sy teenwoordigheid wil hou. Vir jou ook.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |