Inleidend:
Daar is verskillende redes waarom God dat ons moet stop. So paar jaar gelede het ons ‘n Garage Kerk reeks gehad met die titel: “Sewe plekke waar Jesus gestop het.” Die idee agter hierdie reeks was om te sê dat ons graag wou sien watter oomblikke vir Jesus so belangrik was dat Hy daar gestop het. Wat beteken Jesus se STOP vir ons vandag? Ek wil jou nooi om na daardie video’s te gaan kyk. Dis op my Youtube kanaal. Vandag se tema is egter ‘n variasie op daardie vraag of tema. Ons tema is “Wanneer God sê STOP (toe)”. Vir die jongmense wat dalk nie weet wat dit beteken om toe te stop nie, dit beteken om ‘n gat in jou klere reg te maak, maar is ook die term wat gebruik word wanneer ‘n lek in ‘n pyp reg gemaak word. Daar is twee plekke in die Ou Testament wat daar gepraat word van “toe stop” of dan “stop toe”. Albei is belangrik vir ons gemeente se lewe vandag, en albei is belangrik vir jou geestelike groei. Gebed: Here, gee ons genoeg genade om te verstaan wanneer ons iets moet toe stop in ons eie lewens, en dan ook wanneer ons moet iets toe stop in ons gemeente of gemeenskap. Dankie dat u ons herinner aan ‘n lewe waar ons altyd ‘n groter verskil moet maak net as in ons eie lewens. Dankie dat u ons herinner daaraan om verder te kyk. Amen. Skriflesing: Amos 9:11-12: 11 Daardie dag bou Ek die vervalle hut van Dawid weer op; Ek stop sy barste toe en bou sy murasies op, Ek herbou hom soos hy in die ou tyd was, 12 sodat my volk die oorwinnaar sal wees oor wat van Edom oor is, oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, sê die Here. Hy sal dit doen. Job 28:9-12 9 “Die mens bewerk die harde rots met sy hande, hy keer die dieptes van die berge om, 10 hy grawe gange deur die rots, sy oog sien al die skatte, 11 hy stop waterare toe en bring verborge dinge aan die lig. 12 Maar die wysheid, waar word dié gevind, waar is die woonplek van die insig? Prediking: Albei hierdie tekste het iets in gemeen. Albei praat oor iets toe stop vir ‘n rede. Kom ons begin by die teks in Job. In hierdie teks sien ons dat die verteller van die verhaal Job op ‘n unieke plek plaas. Hy moet begin om die wysheid na te jaag. Hier beskryf Job dan twee baie verskillende kulture voor hom afspeel. Eerstens vertel Job, wat op daardie stadium reeds alles verloor het dat hy sien hoe die wêreld hulself agter aardse dinge aanjaag. Die wêreld stop toe, maar sodat hulle dieper kan grawe. Dit beteken dat hulle besig is om dieper te grawe omdat hulle graag weer wil sien, meer wil hê, hulself meer verryk. Dan vra hy egter die vraag waar die wysheid is waarna hulle opsoek is. Wanneer ons as mense toestop, is dit maklik gekoppel aan dit wat onsself verryk. Dis maklik gekoppel aan wat ons graag wil bereik. In die mynbou is een van die grootste uitdagings in die proses van diep delf om nie ‘n wateraar te tref nie. Wanneer dit gebeur moet jy daardie gat toe stop. Ons moet gereeld toe stop in ons lewens sodat die water ons nie oorweldig nie. Maar wanneer God sê “stop” (toe) dan is dit iets radikaal anders. Wanneer God dit sê wil Hy Sy identiteit beklemtoon in ons almal se lewens. Wanneer Hy met die volk in Amos praat wil Hy graag toe stop in hul lewens sodat hulle kan sien daar is vreugde en genade vir hulle. Daardie vreugde en genade is direk gekoppel aan wie hulle is. God wil die gate in die murasie stop sodat die volk hul identiteit kan bereik. Hul identiteit is om ‘n suksesvolle volk te wees. En nou kom ons by die dieper verlange van die mens uit. Die mens het ‘n behoefte aan sukses behaal. God se prentjie van wat suksesvol is, is net nie altyd ons mense se prentjie daarvan nie. Hierdie verskil laat ons met ‘n dilemma. Dit laat ons met die dilemma dat ons gereeld ons sukses moet bewys. Sukses is vir meeste van ons niks nie, indien ons dit nie kan wys nie. Dis daarom dat die mens moet diep grawe om al hierdie edelstene te vind. Ons wil wys hoe suksesvol ons is, anders dink ons dit is betekenisloos. God wil ook sien dat Sy volk suksesvol is, maar dan nie sonder om hulle stukkende mure toe te stop nie. Om die waarheid te sê, hulle wat STOP sodat HY hulle kan TOE STOP is deel van hul identiteit. God se volk is bedoel om ‘n verhouding met Hom te hê, nie om maar doelloos aan te hou soos die ander volke met aanbid en nie verstaan met wie hulle praat nie. Die volk moet dus, net soos ons, die kapasiteit ontwikkel om te stop. Wanneer God dus vir die volk sê STOP, is dit nie om hulle spoed te keer in die proses van sukses behaal nie, maar eerder om die vrae te vra wat sal lei daartoe dat die volk nie net doelloos aangaan op hul menslike sukses-pad nie. Die boodskap vir die volk daardie tyd, is steeds die boodskap vir ons. Ek en jy moet die kapasiteit ontwikkel om te stop. Sonder die stop, is daar geen toe stop nie, en ook geen sukses nie. Ek wil graag met jou ‘n metafoor deel om hierdie oomblikke van STOP te kan toepas in jou eie lewe. Bob Dylan het gesê: “The main idea behind art is to make you stop”. Jy kan nie na kuns kyk sonder om te stop nie. Die dieper nuanses van wat die kunstenaar probeer verkondig is verlore sonder om te stop. Om kuns te waardeer moet jy stop, en kyk, en wonder. Wanneer jy begin jaag in jou lewe verloor jy die kapasiteit om na jou eie lewe te kyk en sien “Wow, God het my uniek en spesiaal gemaak”. Ware vreugde kan dan gevind word. Nie wanneer ons soos ander mense wil wees of rond hardloop nie, maar eerder wanneer ons dieper delf in wie ons as mense is. Die kapasiteit om te stop is iets wat die kerk en die wêreld so nodig het. Die hele idee agter jou eie lewe is soos ‘n kunswerk. Dit moet jou laat stop. Sonder die stop en kyk na jouself, gaan jy aanhou om die kunswerk in jou eie lewe te mis. God wou nie hê Sy volk moet die kunswerk in hul eie lewens mis nie, en Hy wil dit ook nie vir jou hê nie. Onthou dit, volgende keer wanneer jy moet stop, of wil stop. Amen.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |