Inleidend:Ons lees op verskeie plekke in die Bybel dat daar gepraat word oor luister, of oor "om te hoor", of "om aandag te gee". Ten minste 34 teksverse gaan daaroor dat iemand of 'n groep nie wou hoor nie. Daar is 13 teksverse of dele in die Bybel waarin die opdrag gegee word om nie te luister nie. Nie een van hierdie teksverse kry 'n man uit die opdrag om die gras te sny nie. 50 teksverse gaan daaroor dat ons na God moet luister, en by 'n paar van hierdie teksverse is die implikasie dat ons dan onsself beter sal ken wanneer ons Hom beter sal hoor. Ons leef mos in 'n wêreld waarin selfkennis en selfwysheid so belangrik is. In vandag se erediens gaan ons stilstaan by 'n teks waarin God direk sê dat ons Hom moet hoor. Dat ons aandag moet gee. 'n Nog groter groei geleentheid!Omdat ons wil sien dat elkeen van ons nog meer groei in God se Woord en wie Hy is, en so hulself beter leerken, sal daar aan die einde van hierdie erediens nog materiaal beskikbaar wees wat jy in jou stiltetyd en andersins kan gebruik om self nog meer te groei in God se Woord. Ek gaan ook na van hierdie materiaal verwys in die prediking, en die skakels is ook op die geskrewe teks van hierdie erediens, wat jy op www.nghorison.com kan kry. Kliek op die blogs bladsy waar jy vandag se preek sal vind. Onthou dat daar ook ander groei matriaal op ons webtuiste is wat jou wil inspireer. Maar nou bid ons eers saam, sodat ons nie net kan hoor nie, maar werklik kan aandag gee, en kan luister. Gebed:Here, daar is geraas in my hart. Al word dit soms stil rondom my, is dit of die geraas binne my net nie stil word nie. As ek besig is, dan pla dit my nie so erg nie, dan is dit maar soos donderweer in die verte. Maar as dit stil word rondom my, daar waar ek in die nag wakker lê en peins, dan word hierdie veraf gedreun ‘n skrikwekkende storm. En die klank is nie die majestueuse klank van ‘n simfonie wat opwerk tot ‘n magtige crescendo nie, nee, dis soos die oorverdowende gekap van potte en panne. Wat ‘n lawaai. En ek voel magteloos om dit stil te maak hier binne-in my. Here Jesus, U wat eens die wind en die golwe aangespreek het en dit het stil geword, maak dit stil in my. Spreek net ‘n woord … en u vrede sal in my hart kom heers. Ek wag … stil … geduldig. Tot ek u liefdevolle opdrag hoor en as u vir my sê: wees stil en weet, ek is die Heer. (Richard Foster) Skriflesing: Jesaja 44:1-2Maar luister nou, my dienaar Jakob, Israel wat Ek uitverkies het: So sê die Here wat jou gemaak het, Hy wat jou gevorm het in die moederskoot en jou nou nog help: Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob... Prediking:Hierdie twee verse is so wonderlik vir elkeen wat sukkel met identiteit. In hierdie verse sien ons dat God vir Sy volk sê dat Hy hulle uitverkies het, en daarna ook dat Hy hulle self gemaak het. Hy belowe dat Hy hulle sal help. In 'n wêreld wat soms alles in sy mag doen om ons weg te rokkel daarvan dat ons 'n identiteit in Christus het, is hierdie verse 'n wonderlike herinnering dat God ons ken. Nadat ek hierdie verse in my voorbereiding vir vandag gelees het, het ek ook so gevoel. Hierdie is een van daardie tekste waaruit jy 'n lekker preek kan maak. En dominees hou van lekker preke uitwerk. Jy kan ook daardie benadering volg as hoorder van hierdie preek. Jy kan hoop vir 'n lekker preek vandag. Wanneer ons egter kyk na die eerste paar woorde van die Afrikaanse teks, sien ons egter dat hierdie teks begin die woorde: "Maar luister nou, my dienaar..." Nog voordat God vir die volk kom sê dat Hy hulle spesiaal gemaak het, dat Hy hulle gevorm het, kom Hy met hierdie woorde. Luister, nou... Luister nou... Gee aandag. Sit die dinge eenkant wat jou probeer weglok van my af. Luister. In hierdie woorde vind ons ook die verklaring dat God teenwoordig is. God verklaar Sy daar-wees vir die Sy volk. Die woord wat hier gebruik word vir luister in die Bybel impliseer iemand wat sag praat. Hoe sou jy weet dat iemand sag praat as hy of sy nie by jou is nie. Die een wat sê "Luister", sê ook indirek deur die konteks van hierdie uitleg dat Hy teenwoordig is. God is teenwoordig in hierdie teks. Hy is daar. Hy laat niks gebeur wat nie Sy wil is nie. Daarom kan jy vandag ook weet dat God by jou teenwoordig is. Die God wat ons ken en wat teenwoordig is in jou lewe sê ook: "Luister nou..." Hy roep jou om dit wat jou aandag weg lok eenkant te plaas sodat jy kan luister. Wat gebeur wanneer God met ons praat?
Die tweede waarna ons verwys het is dat God dan vir mense kom sê wie hulle is, of kan wees, of sal wees. En dan ook om ons in verhouding met Hom te plaas tot eer en verheerliking van Sy Naam. Daar is geen ander rede as dit nie. God bring ons in verhouding met Hom sodat Hy verheerlik kan word. Alles op aarde gaan oor Hom en Sy teenwoordigheid. Die derde gebeurtenis in 'n ontmoeting met God, is 'n opdrag...
Wanneer God die opdrag gee is dit altyd 'n uitdaging. Of dit nou is om te gaan na Nineve, of om op te staan onder die besembos wanneer Isebel jou spreekwoordelik wil vermoor. In hierdie teks is die opdrag eenvoudig: "Moenie bang wees nie..." Ons sien dus die formule vir hierdie boodskap as eenvoudig: 1. God vra dat Sy volk na Hom moet luister. 2. God beklemtoon wie hulle is in Hom (nie op hul eie nie), 3. God gee die opdrag (Moenie bang wees nie)... Dit lyk vir my asof al drie hierdie dele van die teks vir ons 'n probleem is in vandag se tye. As ons kyk na punt 1. Ons sukkel om na God te luister. Onthou dat God fluister, jy moet dus stil wees om te hoor. Hy vra vandag van jou om die dinge wat jou aandag wegneem eenkant te plaas. Weet jy nie wat dit is nie? Dis gewoonlik gekoppel aan iets wat skeefgetrek is, eerder as iets in ditself. Die dinge wat ons wegrokkel van God is meeste van die tyd nie dinge wat opsigself verkeerd is nie, maar dis dinge wat dit kan wees. Soos TV kyk. TV kyk hoef nie sleg te wees nie, maar dit kan wees. Dis net deur ervaring dat ons agterkom dat sekere dinge nie goed is vir ons nie. Hier wil ek jou uitdaag rondom sosiale media. Dink gou vir 'n oomblik na oor hoeveel tyd jy met jou selfoon spandeer. Stel hierdie week 'n lys op waar jy afmerk hoeveel tyd jy aan wat gee, en weeg dit op teen jou stiltetyd in die aand. Sosiale media kan vandag vir jou ook waar jy by die huis sit 'n afleiding wees, of 'n inspirasie wat jou nader aan God kan bring omdat jy bereid is om hierdie erediens te sien. Luister nou! Hierdie woorde is nie om jou te laat sleg voel nie. Dis om jou te herinner dat daar 'n tyd van die dag is om jou selfoon af te sit en net te luister na wat God in Sy Woord sê.
Die interne snellers is dit wat dieper lê. Dis wat iets soos sosiale media ons laat voel. Dit laat ons nie eensaam of alleen voel nie. Ons verloor aandag op dit wat belangrik is omdat daar êrens iets in ons identiteit is wat sukkel. Ons wil weer sien op facebook dat ons spesiaal is. Dat ons fotos geniet word deur mense... God weet ons wil spesiaal voel. Daarom gee Hy vir ons punt twee van hierdie teks. Hy kom beklemtoon ons identiteit. Hy het ons lief. Net soos ons is. Sonder die filters wat ons laat mooier lyk op Instagram. Sonder die perfekte familie fotos. Ons gaan dit egter net hoor as ons onsself instel vir Sy Woord. Punt drie is juis ook die punt van die teks:Ons wil graag meeste van ons tyd aan hierdie deel spandeer. Hierdie deel van die teks is waar God die opdrag gee. In hierdie geval is dit "Moenie bang wees nie..." Ons wil graag net leef. Ons wil meeste van die tyd buite wees en die lewe geniet. Wat egter interresant is is dat hierdie deel in hierdie teks die vinnigste genoem word. Die eerste deel van hierdie teks was ook vinnig. Luister, en moenie bang wees nie. Die langste deel van hierdie teks is deel 2, waarin God ons wil help verstaan wie ons is. So baie mense wil God se opdrag uitvoer, maar vergeet dat meeste van die werk intern moet gebeur, nie ekstern nie.
Nog materiaal:
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |