"Daar is een heerlikheid - U sien; "Sometimes we must accept the pain of faith as not to lose it" Ek begin hierdie preek doelbewus met hierdie aanhalings, want ek glo dit is waar. Albei aanhalings. Die eerste deur die bekende van Wyk Louw, en die tweede deur die bekende Elie Wiesel.
Elkeen kommunikeer dieselfde beginsel – Dit is moeilik om ‘n profeet te wees. Dit vat worsteling. Ek gaan later in die erediens meer daaroor sê. Kom ons bid eers saam: “Here, ons elkeen worstel soms met iets in ons lewens. Dalk is die lewe vir ons in dít sélf ‘n worsteling. Dankie dat U ons nooit alleen laat nie, selfs wanneer ons met U worstel. Amen” Votum en Seëngroet: Genade vir U, en vrede, van God ons Vader, en die Here Jesus, deur die kragtige werking van Sy Heilige Gees. Amen. Kom ons lees saam in die Woord van die Here: Jeremia 15:10;15-18; 20:7-13 10 Ellende het my getref, Ma, toe Ma my in die wêreld gebring het. Ek is 'n man wat dwarsdeur die land mense moet beskuldig en met hulle moet twis. Ek het aan niemand iets geleen nie en by niemand geleen nie, tog vervloek almal my. 15 U weet alles, Here: dink aan my, neem my onder u sorg, straf my vervolgers oor wat hulle aan my doen. Moet tog nie u toorn laat voortduur en my laat sterf nie; neem tog in ag dat dit oor U is dat ek beledig word. 16 Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my 'n vreugde; ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is, Here, almagtige God. 17 Ek kon nie sit waar daar gesels en gelag word en dit saam geniet nie; U het my in besit geneem en ek moes alleen sit, vol van die verontwaardiging wat van U af kom. 18 Waarom is daar nie 'n einde aan my pyn nie, waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie? Ek kan nie op U reken nie, net so min as op 'n stroom wat nie standhoudend is nie. 7 U het my mislei, Here, en ek het my laat mislei. U was te sterk vir my, U het gewen. Ek word heeldag uitgelag, almal spot met my. 8 Elke keer as ek my mond oopmaak, moet ek skree, moet ek roep: “Daar is geweld, daar is verdrukking!” Om die woord van die Here te moet aankondig, beteken vir my net vernedering en bespotting heeldag deur. 9 En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie en nie meer in sy Naam praat nie, dan word dit in my soos 'n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie. Ek is moeg van weerstand bied daarteen, ek kan nie meer nie. 10 Ek hoor almal fluister: “Angs van alle kante! Sê dit! Kom ons sê vir die koning wat Jeremia sê!” Selfs my vriende wag dat ek tot 'n val kom! Hulle sê: “Miskien loop hy in die val, en dan kan ons hom bykom en ons op hom wreek.” 11 Maar U is by my, Here, en U is magtig en sterk: dit is dié wat my vervolg, wat sal val; hulle sal nie wen nie. Hulle sal teleurgestel staan, want hulle sal nie in hulle doel slaag nie. Die skande van hulle neerlaag sal nooit vergeet word nie. 12 Here, Almagtige, u oordeel is reg, U sien raak wat diep in 'n mens is. Laat my sien hoe U my vyande straf want ek gee my saak in u hande. 13 Sing tot eer van die Here, loof Hom! Hy red die arme uit die mag van slegte mense. Prediking: Om ‘n profeet te wees bring vir jou ‘n groot krisis. Dis nie maklik nie. Ons sien in hierdie verse dat Jeremia ook daarmee sukkel. In Jeremia 15:16 vertel Jeremia hoe hy God se woorde verslind het toe dit na hom gekom het. Hy vertel hoe dit vir hom ‘n vreugde was. Maar daardie dae is oënskynlik verby. Hy het alles verloor om profeet te wees. Hy het nie meer ‘n huwelikslewe nie. Sy boodskappe word geïgnoreer, en al sy vriende dink hy is so mal soos ‘n haas. Tog hou hy aan verkondig. Hy hou aan om moeilike openbaringe aan die volk te bring. Waarom? Die bekende kerkhervormer Martin Luther het met dieselfde uitdaging gesit. In sy tafelgesprekke, aan die einde van sy lewe, skryf hy dat as hy nou ‘n kans sou kry om die evangelie te verkondig, hy dit nie sou doen nie. Waarom sukkel profete en predikante hiermee? Ek dink van Wyk Louw se woorde aan die begin van die erediens verduidelik dit vir ons goed. Wanneer ons die waarheid sien, is dit moeilik om terug te gaan daarna om dit nie te sien nie. Amper soos Neo in “The Matrix”, die bekende film uit 1999. Wanneer ons werklik iets van God se groot boodskap en liefde beleef kan dit voel soos ‘n vervloeking, want jy kan nie daarvan terugkeer nie. Daarom is dit moeilik. Dis nie net moeilik vir die profeet Jeremia nie. Sy worsteling was om die evangelie te verkondig in moeilike tye. Ons het elkeen ons eie worstelings. Jy worstel dalk vandag met jou beroep, of dalk daarmee dat jy nie meer een het nie. Dalk worstel jy met jou huwelik, of dat jy nie een het nie. Dalk worstel jy net in die verkeer? Dalk het jy iemand te na gekom, dalk het jy geheime wat jou opeet. Ons elkeen worstel met iets. Die uiteinde van worsteling is dat dit ons oorweldig. Dit het ook met Jakob gebeur toe hy met God geworstel het in Jaboks drif. God het vir Hom gesê: “Los my, want die dag breek”. Hy het geantwoord: “Nie tot U my seën nie.” God het hom geseën. Om met God te worstel is die seëning. Dis ‘n ander tipe genade wat baie dissipels van God sukkel om te verstaan. Jy kan dit vandag verstaan. Jy hoef nie weg te deins van worsteling af nie. Jy kan dit omarm, jy kan dit end-uit volhou. Om te worstel is om God se seën en God se genade te beleef. Paulus getuig ook daarvan. Hy praat oor die angel in sy vlees. Ons elkeen het ‘n angel. Tog hou Jeremia aan verkondig, want hy weet God is met hom. Tog hou Paulus aan stap, berg oor en veld deur, om te verkondig, want God is met hom. Tog hou Luther aan skryf en preek, want God is met hom. Tog kan jy aanhou vandag, want God is met jou. Amen.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |