Prediker:Ds. Gerrit Visser Tema:Opdrag om te versorg! Skriflesing:Johannes 19:25-27 Welkom:Baie welkom by vanoggend se erediens. Mag jy deur die lees van hierdie preek nuut dink oor jou eie versorging van ander. Onthou dat om vir mekaar te sorg die aktiwiteit is wat die kerk na Jesus se hemelvaart gedefinieer het. Afkondigings:Die afkondigings volg deur op die skakel hier onder te kliek: Wegneemetes:Gebed:Here, kom leer my om vir ander te sorg. Ons kom bely dat ons dit nie altyd doen soos ons dit moet doen nie. Daarom kom pleit ons dat u ons sal leer, Here God. Amen. Toetrede:As toetredingslied sing ons vanoggend lied 176 vers 1. Ons gaan dit twee maal deur sing. Jy kan die woorde saam sing, of jy kan die video daarvan op Youtube kyk. Diegene wat die erediens lewendig bywoon kan luister na Daniela Pretorius. Op Youtube luister ons Gideon Brits van die NG Gemeente Overkruin in Pretoria. Skriflesing:Die teksvers waarna ons vanoggend gaan kyk is bekend aan ons almal. Jesus is besig om gekruisig te word, en Sy moeder en van Sy vriende is nog daar rondom die kruis. Jesus gee dan finale opdragte aan Johannes deur oor die versorging van Sy aardse ma, Maria. Onthou dat ons in hierdie teks vra wat dit beteken om ander te versorg? Hoe definieer hierdie opdrag tot versorging ons vandag. Onthou dat die eerste gemeente juis uitgestaan het omdat hulle onder andere besig was te sorg vir hul medemens en veral diegene wat direk in hul kring was. Vraag? Wie wil alleen doodgaan?![]() Ek kan nie dink dat enige iemand in die erediens of elders vandag sou meld dat hulle alleen sou wou sterf nie. 'n Paar dae voor my eie pa se dood was hy reeds wagtend op die laaste oomblikke. Hy het my geroep uit sy studeerkamer waar ek en my broer besig was om te gesels oor die lewe na sy sterwe. Sy woorde aan ons was die volgende: "Moenie vergeet dat ek hier is nie." Toe sit ons weer vir 'n uur by hom tot hy geslaap het. Niemand wil alleen doodgaan nie. Elke mens op aarde het die behoefte aan versorging. Elkeen wil weet daar is iemand langs sy bed as dit sy einde is. My goeie vriend JP Dirker het sy dank aan die noodgevalle dokter betuig nadat hy in 'n karongeluk was. Hy was dankbaar dat hy nie alleen was nie. Sy was dankbaar dat sy daar kon wees, en net daarna het hy gesterf. Dis in die konteks van hierdie vraag oor alleen sterf dat ek wil vra dat jy vandag nuut na hierdie paar verse kyk. As Seun van God was Jesus dankbaar vir Sy aardse pa en ma. Daarom wil hy graag sien dat Sy versorg is na Sy dood en hemelvaart. Dit was dan ook belangrik vir Hom om so te doen omdat Hy die oudste seun of kind was. Deel van die tradisie van daardie tyd was dat jy moet seker maak jou mense is versorg indien jy as die sogenaamde patriarg vroeg sou sterf. Jesus het reeds lank voor Sy kruisging geweet dat dit gaan gebeur. Hy was voorbereid daarop om vir ons te sterf. Daarom berei Hy sy dissipels op ten minste drie geleenthede voor daarvoor. Het Hy ooit met hulle gesels oor hoe Sy eie moeder versorg moes word? Ons weet nie. Indien dit gebeur het, was dit nie gedokumenteer nie. Hy doen dit egter hier, want niemand hoef alleen te sterf nie. Elkeen van ons verdien die toenadering en liefde wat die einde van 'n lewe van versorging skenk. Ek en jy word geroep om so vir mekaar te sorg dat niemand in ons kring, in hierdie gemeente, daardie bekommernis behoort te beleef nie. Jy kan net versorg wanneer jy vir jouself sorg![]() En hier verwys ek nie na jou bankrekening nie. Jy kan ne vir ander sorg indien jy verstaan dat jy ook belangrik is. Een van die videos wat ek as voorbereiding vir hierdie erediens gekyk het, het my gehelp om dit te verstaan. Iemand wat spesifiek vir bejaardes in die VSA sorg, het gemerk dat hy makliker en meer sinvol die taak van versorging uitvoer wanneer hy self ook okey is. Mense wat versorg voel, kan vir ander sorg. Ons sien dan ook na Jesus se dood en hemelvaart dat daar 'n kettingreaksie van versorging in die gebeure van die gemeentes in Handelinge is. Almal versorg mekaar. Almal voel versorg, en daarom kan hulle spontaan weer ander versorg. Johannes kry die opdrag om Jesus se ma te versorg omdat Hy self nog baie het om te leer oor versorging. Jesus kon enige iemand kies om Sy eie ma te versorg. Ons lees in Johannes 2 dat iemand soos Nataniel 'n wonderlike nederige persoonlikheid gehad het. Dalk sou hy 'n beter kandidaat gewees het om Jesus se ma te versorg? Tog kies Jesus hom nie. Hy kies vir Johannes. Johannes se bynaam was seun van die donder. Hoe kan dit wees dat hierdie tipe mens, wat ons op ander plek lees arrogant genoeg was om self aan Jesus se regterkant te sit, dan vir Maria moet versorg? Indien Johannes kon leer om vir Maria te versorg, sou Hy ook duisende daarna kon versorg. Jesus wil sien dat Johannes sy volle potensiaal bereik wanneer hy ander versorg, en Hy weet dit begin in Johannes se huis. Johannes stem dan in, aangesien die skrywer vertel dat Johannes haar van daardie dag af in sy eie huis versorg het. Johannes neem die opdrag om te versorg ernstig op. Het jy dit al gedoen? Neem jy daardie opdrag ernstig op. In hierdie gemeente is daar pragverhale van hoe ons besig is om mekaar te versorg. Ek dink ons kan baie trots wees daarop, maar daar is nog baie meer wat gedoen kan word. Wys ons werklik deur ons gedrag en taal dat ons vir ander sorg? Jy kan nie wil sorg vir die mense net binne-in jou kring, en dan nalaat om ook vir die man met die EFF beret te bid nie. Jy kan nie werklik versorging verstaan as jy nie bereid is om opoffering te verstaan nie. Johannes word gekonfronteer met versorging wanneer Hy die grootste opoffering van die eeue sien. Jesus Christus aan die kruis, besig om te sterf vir ons sondes. Ons opdrag om te versorg kan net uitgevoer word wanneer ons die uitdnodiging van Jesus se dood aan die kruis ernstig opneem en leef as mense wat die grootste opoffering verstaan. Versorging en opoffering loop saam. Wanneer ons dit verstaan kan ons anders leef. Amen. Gebed:Here God, leer ons om te versorg omdat die opoffering aan die kruis ernstig opneem, en omdat daardie opdrag die wereld laat sien wie Jesus is. Amen. Slotlied:Ons sluit af deur lied 203:2-3 saam te sing. Jy kan weereens na die woorde hier onder kyk, of ook kyk na die Youtube video: Seengroet:Mag die opdrag om te versorg in jou lewe wees. Mag jy weet dat God vir jou sorg, en dat jy vir ander kan sorg omdat Hy jou voorberei vir nog meer versorging in en rondom jou. En mag ons daardie gemeente wees waar die versorging van mekaar 'n kettingreaksie van omgee veroorsaak wat almal rondom ons oorweldig, tot eer en verheerliking van God se naam. Amen.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |