Prediker:Gerhard van der Merwe Skriflesing:Spreuke 4:18 Afkondigings:Onthou dat die afkondigings elke Maandag op die Hierdie Week e-pos versprei word vir diegene wat nie die vorige Sondag in die erediens was nie. Dankie aan almal wat reeds begin het om ons wegneemetes te ondersteun wat eerkomende Vrydag van 15:00 tot 18:00 is. Bestel asseblief en ondersteun ons. Gebed:Here dankie dat ons nou U Woord en teenwoordigheid kan betree. Amen. Loflied: Lied 196:1,3Gebed:As ons U Woord oopmaak: Wees ons genadig Heer, en laat U Gees ons denke verlig. Amen. Skriflesing:Prediking:Die boek Spreuke is soos n digbundel. Dit bekyk lewensbelangrike dinge vanuit verskillende hoeke. Dit belig dieselfde saak op verskillende manière. En as jy mooi na die ruggraat van dit alles kyk, sien jy n goue draad loop deur die hele verhaal in die Bybel van hoe God aan mense van hul tyd raak. Dit vertel n verhaal van iemand wat al die lewe gesien het, wat stilweg besef dat daar mense is, om hulle en in hul huise en in hul vriendekring is, wat onseker en ongemaklik is met sake wat vir hulle nogal helder is. Elke mens het n keuse hoe hy of sy hul lewe gaan inkleur. Niemand kan die ander een voorskryf nie, maar as jy wil, as jy lank en stil kyk na die lewe om jou… dan sien jy n goue draad deur die hele geskiedenis. Dan kan jy deur verskillende eeue voorbeelde sien wat jou inspireer om ook op daardie pad te loop. Mense wat in stille oorgawe nuuskierig bly vra na wie God is, hoe Hy met my n pad loop, hoe Hy stadig sigbaar word as ek lank genoeg kyk… Dis daardie mense wat iewers, een of ander tyd n aha oomblik beleef. En Spreuke sê…. Daar is n besliste manier hoe jy mense wat stip soek na God sal kan identifiseer. Daar is kenmerke wat later glashelder uitstaan. Daarom sê Spreuke dat n wyse regverdige jou kan help as jy nog n jong kind is op hierdie reis. Waarmee sal die jongeling se weg suiwer hou? Deur hom te hou aan die Woord. Johannes sou later dit mooi verwoord… Die Woord het toe mens geword en onder ons kom woon. In vers 4 sê hy dan… In Hom was daar lewe en hierdie lewe was die Lig vir die mense. Spreuke vra die vraag… Wat kan as ware wysheid gesien word? Hulle wat soek en kyk na God. Dis waar ewige wysheid begin. My Kind, jy wat nog oë het wat maklik betower word deur ander dinge en ander opinies, as ek jou kan raad gee… Fokus op die Here, luister fyn na Sy woorde. Volg op daardie roetekaart, al is jy soms effens onseker. Moenie links of regs afdraai nie. Baken jou koers af en bly op die pad. Jesus is te kosbaar om jou kop te verloor. En as jy dit jou fokus maak, dan sal jy stadig… maar verseker… n ander lewensingesteldheid ontwikkel wat jou sal onderskei van ander mense. Terwyl hulle kop verloor, sal jy standvastig wees. Paulus sê: Doelgerig soos n atleet gefokus op die wenstreep of soos n bokser wat doelgerig sy houe slaan. Terwyl sommige in n onbesonne oomblik woorde gebruik wat kwets, of dinge doen wat brue breek en vir altyd skade berokken, is die gelowige kind van God soos een wat op koers bly nader na die Lig, en soos die tyd verby gaan kyk hulle net eendag terug en weet… dat hulle aangeraak en verander is deur Sy kosbare invloed op hul lewe. Die mens wat graag wil uitstyg as n regverdige mens, iemand wat God laat glimlag… daardie persoon bly op die pad nader na die lig, dit word elke dag, onsigbaar, sterker, en is later onmiskenbaar, onbreekbaar afgesonder, eenkant geplaas vir God se gebruik. EN dan kom Jesus… en as Hy na mense kyk, sien Hy ook dat hulle soms rondtas en herderloos is. En sulke dinge maak Hom huil. O Jerusalem… hoe wou ek jou bymekaar maak soos n hoender haar kuikens, maar jy wou nie. EN dan praat Jesus met mense en doen Hy soms wonderwerke omdat Hy weet dat mense maar mense is, wisselvallig soos die wind. Dis in sulke oomblikke wat Jesus sê… Ek is die Weg en die lewe en die waarheid. Wie na My toe kom, sal nooit weer dors kry nie. Strome lewende water sal uit hul binneste kom. Dieselfde Jesus wat sê…Kom na My almal wat moeg en oorlaai is… en Ek sal jou rus gee. Die Covid seisoen het ons almal onkant betrap. Skielik is dinge wat sekerhede was nie meer so seker nie. Ons kyk ook verward rond. Gaan ek nog lewe, gaan my ouers nog behoue bly vir my, gaan ek nog werk hê. Gaan die maatskappy waarby ek werk nog bestaan. Gaan my pensioengeld nog hou. En terwyl die ogies begin rond dartel en gryp na sin en probeer om sy eie oplossinge en oortuiginge te formuleer… weet die gelowige wat Hy weet… ek is maar n gekraakte kruik en n breekbare pot. Die krag wat ek het, kom nie van my nie. My anker is nie die ekonomie of werksekuriteit nie. Dit gaan nie om gesondheid en kosbare mense om my wat vir my gespaar word nie… Dit gaan alles oor een ding…. Een ding weet ek en daartoe verbind ek my,,, dat ek… my fokus op die Here sal hou en dat ek veilg sal wees in die huis van die Here. Tot in lengte van dae. En as ek dan deur n dal van doodskaduwee moet gaan… sal ek nogtans nie vrees nie… want U is by my. U stok en U staf behoed my. Daar sal niks en niemand my uit die hand van die Here kan ruk nie. Geen honger of gevaar of swaard kan my ruk uit die liefdevolle omhelsing van die Here nie. En daardie sekerheid… wat soms maar baie wankelrig voel… maak dat ek aanhou loop op die pad wat lei na oorwinning. My krag kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het en nooit die werke van Sy hande laat vaar nie. Gebed:Slotlied:
1 Comment
Alta de Beer
11/2/2020 12:52:14 am
Dankie vir die altyd inspirerende boodskap!
Reply
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |