Wie preek?Gerhard van der Merwe Tema:Shalom! Skriflesing:Johannes 14:25 - 27 Prediking:Ons is besig met ‘n kort reeks oor woorde wat hoop gee. Kersdag het ons die woord Maranatha gebruik. Vir die wat nie hier kon wees nie, net ‘n baie kort opsomming… Maranatha is n Aramese woord wat net een keer in die Bybel voorkom, maar die konsep is volop deursuur in die hele nuwe Testament. Dit is n woord wat tydloos is. Aan die een kant kan dit beteken dat die Here het gekom, en dit kan beteken … die Here is nou hier teenwoordig en dit kan beteken… die Here sal weer kom. Maranatha het deur gebreek met die koms van Jesus na die wêreld in die stal van Bethlehem. Die uitstorting van die HG ondersteun hierdie teenwoordigheid. En die lewende hoop dat Jesus spoedig weer op die wolke sal kom. Vandag is dit gepas om n Hebreeuse woord te gebruik as ons woord wat hoop gee. En dit is n baie bekende woord…. SHALOM. Die woord het voorgekom in van die vroegste ooreenkomste wat in Israel onderteken was. Tussen families, met n huwelikskontrak, en tussen twee lande wat n ooreenkoms onderteken. Mag daar vrede wees. Ek bedoel om jou te ondersteun in jou voorspoed. En dit is weer ‘n woord wat so ryk is, dat ons sal sukkel om dit in Afrikaans of Engels mooi saam te vat. Die woord is ‘n groet wat beteken… Vrede. Maar dit is baie meer omvattend. Dit dra die karakter van genesing, heelheid, totaliteit. Dis omvangryk. Dit vat al die los drade bymekaar en bring dit in een saam. Dink aan ‘n tapisserie met al die los drade aan die agterkant, maar as jy dit van die regte kant bekyk maak dit ‘n prentjie wat jou asem kan wegslaan. Al die los drade maak sin, en kom bymekaar. Die groot fokus punt van die wet is om shalom tussen God en mens te voorsien. En tog kom di teen keer in die Bybel voor in die boek Rigters as die engel met Gideon gaan praat waar hy op die dorsvloer koring wan. Hy is vreesbevange, maar as die engel van hom af weggaan, dan bou hy ‘n altaar en noem dit Jahwe shalom… Die Here is my vrede. Al is die tye hoe uitdagend… In die Here is my vrede. Al is alles om my in ‘n storm… by die Here, selfs net die gedagte aan die Here… bring vir my ‘n rustigheid en vrede… Dit is wel met my siel. In die alledaagse lewe was die woord shalom gebruik as jy iemand ontmoet. En dan beteken dit… Vrede vir jou. Ek gaan jou nie skade doen nie. Jy is veilig by my. Hier in my teenwoordigheid sal jy vrede ervaar. Hier kan jy ontspan. Maar dit kan ook n woord wees wat gebruik word as jy totsiens sê. En dan is die betekenis dat jy kan gaan in vrede. En bid jou toe dat jy vrede sal beleef op jou pad Ek wens jou vrede toe. Dis ‘n seëngroet. Dis om iemand die heel mooiste toe te wens. Die Griekse woord wat dieselfde is, is net so moeilik vertaalbaar. Sozo. Die Bybelvertalers het dit dikwels vertaal met gesondheid. Genesing, maar die diepste soort genesing wat God kan gee en jou siel tot rus sal bring. Met die aanbreek van die Shabbat, het die familie bymekaar gekom en mekaar gegroet met die woord shalom, mekaar op die wang gesoen en dat het die ander persoon gesê.. shalom aleichem. En dit beteken: laat die vrede ook oor jou skyn. Voor hulle die shabbat ete eet, het hulle n bekende lied gesing.. Shalom Aleichem. Wanneer alles in harmonie is… dan is daar Shalom. En Jesus is die een wat al die los drade van mense en politiek en geskiedenis en godsdiens en konflik saam bind tot een heelheid. Hy is die swaartepunt van die skepping. Dit laat my dink aan die dogtertjie vir wie gevra is waar is God… en haar antwoord was… in die middel. So ek wil aan die begin van die nuwe jaar vir jou ons Here se shalom aan te bied. Ek weet nie hoeveel los drade jy op die oomblik in jou lewe ervaar nie. In jouself, met God, met jou werk of finansies, jou gesondheid, jou huwelik… Mag 2022 die jaar van shalom wees. En mag jy hierdie shalom aanbied vir elkeen op jou pad, in jou straat en op die kontaklys in jou telefoon of facebook. Mag jy die draer wees van shalom. Mag dit in jou oë en in jou glimlag n blyplek kry. Mag jou woorde genesing bring, heelheid en vrede. En ten laaste … mag jy en Jesus Christus hierdie jaar ‘n jaar van shalom beleef. Seëngroet:Jahwe Shalom. Die Here is jou vrede… Shalom Aleichem.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |