Wie preek?Gerrit Visser Waaroor gaan dit?Johannes 17:20-26 “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet. “Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het. “Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.” Ons sien in Johannes 13 tot 16 dat Jesus die laaste keer met Sy dissipels gesels, en ook dat hulle vrae het oor hoe die lewe sou wees nadat Hy weggaan. Dis ‘n weggaan wat hulle nog nie een volledig verstaan nie.
Dis waarskynlik waarom al die vrae daar is. En dan, na al die vrae, is dit tyd om te bid. Jesus bid vir Sy dissipels in hierdie teksgedeelte wat ons vandag saamlees. Matteus, Markus en Lukas se evangelies onthou net hoe Jesus in Getsemane bid. Iets wat waarskynlik aan hulle oorgedra is. Hulle praat nie van ‘n gebed tydens Sy laaste bediening van ete aan hulle nie. Maar Johannes onthou dat Jesus daar ook vir hulle gebid het. Hy onthou hoe Jesus vir hul eenheid gebid het. Volgens Johannes is Jesus se gebed nie net bloedsweet in Getsemane nie, maar vreugde in die bo-kamer waar Hy voete was, wyn instel en brood eet. Hierdie word nie aan ons deurgegee omdat dit teenstrydig is, maar eerder omdat dit ‘n groot aand was vir al die dissipels. Dis die aand voor Jesus se kruisiging. Die aand van die eerste nagmaal. Die aand van Getsemane, die aand bloedsweet. Die aand van Jesus se inhegtenisname. Die aand van spanning. Matteus, Markus en Lukas fokus daarop, maar Johannes fokus op dit wat vroeër gebeur. Hy fokus op die bo-kamer, en Jesus se gebed vir eenheid. Daardie gebed vir eenheid sou die ander herinner dat hul eenheid en liefde vir mekaar, die liefde in die drie-enige God openbaar vir die wereld. Dis hierdie gebed wat God se eenheid instraal, wat hulle moet aanmoedig om vir mekaar dieselfde te wees – eenheid. Hierdie kragtige oomblik is waar Jesus beweeg van informasie na intersessie. Van informasie oor die toekoms, na intersessie, voorbidding, oor die toekoms. Net voor die oomblik van die inhegtenisname soos ‘n ewigheid sal voel, Getsemane, die kruis, Sy dood, kyk Hy na wat daarna is. Hy kyk verder as die oomblik. Hul soeke na informasie word beëindig deur Sy gebed – liefde, eenheid, respek – dis die wiele van die voertuig wat hulle die toekoms in moet dra. Jesus skuif van die oomblik van onsekerheid na die toekoms. Sy gebed vir Sy volgelinge neem Hom daarheen, en dit moet vandag nog vir my en jou presies dieselfde wees. Informasie het ‘n manier om ons vas te hou in die hede. Intersessie, voorbidding, haal ons daaruit en kyk na die toekoms. Wanneer jy vasgevang raak in ‘n konstante soeke na informasie oor die toekoms, onthou dat net gebed jou daaruit kan haal. Wanneer Dokter Google se raad jou vaspen oor die moontlike toekoms, is dit gebed wat jou daaruit haal, jou kombuis toe stuur en koppie tee gaan laat maak. Wanneer almal se voorstelle oor die beste woonbuurt ondraaglik raak, is dit gebed wat jou daaruit haal. Horison het nou nodig om te bid. Daar is vrae oor die toekoms, en daar is baie informasie oor die toekoms, en die hede, veral na my eie weggaan, maar dis net gebed wat ons die vrymoedigheid en gerustheid gee om die toekoms in te gaan. Sonder gebed kan ons dit nie doen nie. En dan is die vraag wat die temas van gebed behoort te wees. Jesus kom stel die voorbeeld. Eenheid. Liefde. Respek. In die seisoen wat voorle, soek daardie gebede om jou te dra na ‘n nuwe seisoen.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |