Wie preek?Gerrit Visser Waaroor gaan dit?Oor hoe ons gebrokenheid deur God raakgesien word en dit ons inspireer tot sagmoedigheid vir mekaar. Afkondigings:Inleiding:Ons begin hierdie diens deur na ‘n paar foto’s te kyk. Hierdie eerste foto’s is van ‘n huis wat eers ‘n skuur was. Die paartjie wat dit gebou het bly in Engeland. Die tweede foto’s is ook van ‘n huis in Engeland. Die man wat dit gebou het, het vier jaar daaraan gebou en dit het hom meer as 4,500,000 pond gekos. Die eerste paartjie het hul huis vir 275,000 pond gebou en dit het hulle net meer as ‘n jaar geneem. Watter een van hierdie huise is meer indrukwekkend. As jy in ag neem dat hierdie tweede huis gebou is deur ‘n paartjie wat albei kanker gehad het, sal jy dink dat dit die indrukwekkende huis is. Dis hul verhaal van stukkend-wees en deursettingsvermoë in ‘n seisoen van groot uitdagings wat ons laat voel dat hul verhaal belangriker is. Hul verhaal gryp ons aan. Niemand is te stukkend om groot te droom nie. Niemand is te stukkend om ‘n huis te bou nie. Niemand is te stukkend om ‘n storie te deel wat my en jou lewe kan verander nie. Van 'n onbruikbare skuur na 'n pragtige huis. Self omskep vir 275000 pond 'n Huis in 'n begrafplaas, wat omskep is teen 'n koste van 4 500 000 pond. Votum en Seëngroet: Genade vir julle en vrede, van God ons Vader, en die Here Jesus, deur die kragtige werking van Sy Heilige Gees. Amen. Toetrede: Lied 168:1,3 Wet en skuldbelydenis: Met die afgelope week se Bybelstudie het ons die hele brief wat deur Jakobus geskryf is deurgelees. Al 5 hoofstukke. Ek het vir die groep gevra dat hulle asseblief enige iets moet merk wat vir hulle uitstaan in die brief. Enige iets waarmee hulle assosieer. Enige iets wat hulle voel ‘n onderwerp kan wees waardeur God met hulle praat. Ek deel graag met julle wat vir my uitgestaan het. Dit was Jakobus 2:8-10: As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. Vanuit hierdie teks is dit duidelik dat ons nie die wet van God altyd gehoorsaam nie. Ons beoordeel mense volgens hul uiterlike. Ons dink ons verstaan hul diepste innerlike geheime en redes vir leef op grond van hoe hulle lyk, maar ons oordeel. Die wet van God is duidelik hieroor. Ons kan nie anders as om te besef dat ons besig is om te sondig nie. Wanneer ons hierdie gebod nie gehoorsaam nie, is ons ook besig om al die ander gebooie nie te gehoorsaam nie. Die wet maak die standaard hoog. Gelukkig is Christus daar om ons te herinner dat ons nie sonder genade is nie. Hy gee vir ons die genade wanneer ons vra vir vergifnis. Hy help ons om te verstaan dat ons nie mag kies tussen watter verhale van stukkend-wees vir ons meer aantreklik is as ander nie. Hy kies almal, en ons moet ook bereid wees om almal te kies. Kom ons gee nou geleentheid vir stil-gebed waartydens ons ons kan verootmoedig voor God en Sy genade. Ons kan ook vir Hom vra dat Hy ons sal leer om te leef sonder om te onderskei tussen watter stukkend-wees vir ons meer aantreklik is as ander. Stilgebed, gevolg deur prediking en Skriflesing:God se Woord kom duidelik na ons, en ons gaan dit ook nou saam lees.
Ek gaan albei tekste lees, en daarna gaan ons kyk na wat dit vir ons sê oor God se liefde en genade in ons lewens, en ook oor hoe ons kan lief wees vir mekaar te midde van die stukkend-wees in die wêreld. Matteus 5:5-6 Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. 1 Kor 1:30: Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. 31Daarom, soos daar geskrywe staan: “Dié wat wil roem, moet in die Here roem.” Die eerste teks is die inleiding van Jesus se bergprediking. Dit vind plaas in Matteus 5-8. In hierdie vier hoofstukke kom gee Jesus die manifesto van wat dit beteken om ‘n kind van God te wees. Hy kom deel die beginsels oor die lewe in Sy Koninkryk vir ons. Hy begin deur die mense van daardie tyd te verbaas en vir hulle ‘n nuwe definisie te gee van wat geseënd is. Hy sê vir hulle dat om geseënd te wees die teenoorgestelde is van wat hulle dink. Die woord geseënd in hierdie konteks beteken “geseënd soos die gode”. Dit was bedoel vir mense wat werklike mag gehad het soos die wêreld daarna kyk. Dit was bedoel vir die Julius Caeser’s van daardie tyd. Die manne met mag en met geld. Die grondeienaars wat kan doen wat hulle wil. Die menigtes van daardie tyd het nie gevoel asof hulle geseënd was soos die gode nie. Jesus kom sê vir hulle dat hulle werklik geseënd is wanneer hulle sagmoedig is. Om die waarheid te sê, Jesus gaan selfs verder as dit. Hy maak sagmoedigheid ‘n karaktereienskap van diegene wat in die nuwe aarde leef. Dit is betekenisvol vir ons vandag ook. Ons is steeds geseënd, selfs al dink ons dat ons volgens wêreldse standaarde min het. Dis onmoontlik om met sagmoedige oë na ELKEEN se stukkend te kyk as jy nie in Jesus se Koninkryk is nie. Ons kan net groei in sagmoedigheid wanneer ons verstaan dat ons eie stukkend iets is waarbinne ons God kan vind, en waarbinne ons ook onsself kan vind. Ons kan net groei in sagmoedigheid vir ander wanneer ons bereid is om ‘n konteks te skep waarbinne mense hul stukkend met mekaar kan deel sonder veroordeling. Jesus sê verder dat mense wat in Sy Koninkryk wil leef net versadig kan word wanneer hulle honger en dors na wat reg is, en hier gaan dit spesifiek na wat vir Hom reg is, nie noodwendig vir ons nie. Deur die eeue heen was daar gereeld verander aan dit wat ons glo reg is, en wat verkeerd is. Jesus wil hê dat ons moet honger en dors na SY reg. Sy reg oordeel almal presies dieselfde, ongeag hul rykdom en hul vermoëns. Ons kan net mense se stukkend aanvaar wanneer ons besef dat Jesus se uitsprake oor hulle finaal en beslis is, nie ons s’n nie. Ons kan net mense se stukkend leer verstaan wanneer ons besef dat ons almal gelyk is. Deur die eeue heen sukkel die kerk met hierdie idee. Ons aanvaar sekere stukkend omdat dit meer gemaklik is. Volgens Jesus, is almal gelyk, en almal stukkend-wees is ewe belangrik. Die gemeente in Korinte het hiermee gesukkel. Hulle was baie verdeeld, oor alles. En daarom skryf Paulus vir hulle in Sy eerste brief dat die eer vir alles in hul lewe eerste aan God behoort. Hy is die Een wat hulle gebring het waar hulle is. Paulus sou verder in sy briewe aan hulle met hulle juis gesels daaroor dat almal stukkende kleipotte is wat God se heerlikheid wys vir almal. Daar is nie een van ons wat vanoggend hier sit wat nog nooit stukkend was nie. Ons almal was al stukkend. Daarom wil ek vir jou vandag sê dat jou stukkend iets vir iemand anders kan beteken. Niemand is te stukkend nie. Amen.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |