Wie preek:Gerhard van der Merwe Votum:Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? My hulp kom van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Seëngroet:Genade en vrede vir elkeen op aarde Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!” Skriflesing:Matteus 1:23 Prediking:In die volgende drie weke gaan ons kyk na woorde in die Bybel wat hoop gee. Ons is almal al vuisvoos vir die uitdagings van ons tyd. Maskers en om hande te was is die minste van dit. Dis daardie konstante druk van onsekerheid. N Onsekerheid van nie weet wat volgende gaan gebeur nie. Uitgelewer te wees aan ‘n onbekende mag. Dit verlam ons en dreineer ons van hoop. Dit was ‘n bekende ervaring vir gelowiges oor baie eeue. Daar was die knaende besef dat koninkryke oor Israel regeer. Nêrens seker meer as in Jesus se tyd op aarde nie. Na Jesus se Hemelvaart het dit erger geword. Die gelowiges was verstrooid oor die hele klein Asië, vandag se Turkye. Die vervolging van die Romeinse ryk, die verwagtinge dat gelowiges aan die keiser moet eer betoon en hom as ‘n god moet erken, was meedoënloos. Vir hulle was dit ‘n onhoudbare situasie wat vir baie tot hul dood gelei het. Of jy aanbid die keiser, of jy sterf. Gelowiges het ook nooit geweet of daar dalk ‘n informant tussen hulle in hul kerke was nie. Die konstante onsekerheid, onveiligheid, het sy tol geëis. Dit klink so bekend in ons tyd… Die onveiligheid van ‘n Covid-19 wêreld. Die onsekerheid van hoe die ekonomie dit alles gaan absorbeer, of jou eie finansies dit gaan maak, of jy nog jou geliefdes in n nuwe jaar sal kan sien. Ons hoor al meer van mense wat hopeloos net boedel oorgee. Soos die christene in Jesus se tyd ook maar gedoen het. Dit is niks vreemd nie. Ons weet dalk nie genoeg van die gelowiges in daardie tye nie, maar wat ons wel weet is dat hulle die toets van hul uitdagende tye deurstaan het. Die kerk het nie net oorleef nie, dit het uit hul nate gebars. Hoekom? Een van die woorde wat by my vassteek as ons hieroor praat is die woord Maranata. Dit is ‘n Aramese word wat uniek is in taalgebruik. Gewoonlik het alle woorde ‘n tydsgrens. Dit gaan vertel van die verlede, of die hede, of die toekoms. Maar die woord Maranatha het ‘n tydlose betekenis. Die eerste christene het hierdie woord gebruik as hul mekaar gegroet het. Maranatha! Ons kan dit op drie maniere vertaal… Die Here is hier! En dit pas so mooi by Kersfees. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid gebore… die Verlosser… en Sy naam is Immanuel… God met ons! Kersfees, meer as enige ander tyd van die jaar herinner ons aan die teenwoordigheid van Christus. Die woord het vlees geword en onder ons kom woon. Wat ‘n kragtige en hoopvolle gedagte. Ons Verlosser is nie ver nie, Hy is hier. Hy sien jou en kom loop saam met jou in jou situasie, jou omstandighede. Hy sien wat jy sien en hoor wat jy hoor. Hy is hier. Maar Maranatha was ook ‘n woord wat iets van die verlede tyd gesê het. Die Here het gekom. Dit was vir die eerste gelowiges ‘n geweldig kragtige gedagte. Omdat so baie mense, dalk ek en jy ook, net so besig was in hul eie wêreld, dat hulle later begin twyfel het… Het hy rêrig gekom? Onthou jy nog vir Johannes die Doper as hy in die tronk sit voor sy doodsvonnis… Dan stuur hy een van sy dissipels na Jesus en vra… Is U die een wat moes kom? Of moet ons ‘n ander een verwag? Dis dieselfde man wat met ‘n sterk stem kon uitroep… Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Maar as dit rêrig swaar gaan, dan twyfel gelowiges, sterk gelowiges… en daarom het gelowiges vir mekaar gesê… MARANATHA! Die Here het werklik gekom. Niks kan die feit weg redeneer nie. Die bewyse is daar. N Kind is vir ons gebore… en Sy naam is wonderbare raadsman, Vredevors…. Maar die woord Maranatha het ook die toekoms beteken… Die Here gaan weer kom. Ons hoor dit so mooi in Openbaringe se laaste woorde. Kom Here Jesus, Ja kom Here Jesus. Ons verlang en verwag dat U weer sal kom. Maranatha. So, wanneer die gelowiges gesien het dat hul broers en susters in die Here moedeloos, uitgemergel, pap en flou is, wanneer hulle die paniek oor more in hulle oë begin sien, het hulle dit met net een woord gedoen. Dit het hul groet geword as hul by mekaar kom en as hulle wegstap van mekaar. Maranatha… My vriend moet nooit vergeet nie… Jesus het gekom, Jesus is hier in ons midde, en Jesus gaan eendag weer kom. Jesus het gekom en geantwoord op ons geroep in gebed. Jesus is nou hier! En eendag, gaan Jesus weer kom. So treffend dat ons weet: Jesus is die een wat was, wat is en wat weer sal kom. Hy is die alfa en die omega. Die begin en die einde. Van alles. En vandag kan ons mekaar in die oë kyk met hoop vir die pad vorentoe. Dis nie wensdenkery nie. Al is die pad hoe onseker… Maranatha… Ons Verlosser het gekom, hy is nou hier en Hy gaan ons eendag weer ontmoet as ons oorstap na die ewigheid saam met Hom. Seëngroet:Mag die genade van God, en die Liefde van Jesus Christus, en die teenwoordigheid van die HG met julle wees. Maranatha.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |