Wie preek?Gerrit Visser Votum en Seengroet:Dis orals om my, o Here. Wanneer ek op die nuus kyk sien ek ‘n petrolprys wat styg, mense wat ‘n land gaan moet herbou. Ek kyk na my selfoon en sien boodskappe van aftrekorders, en op die straathoeke word ek herinner aan mense wat my geld glo nodig het. Mense haat dit om oor geld te praat in die kerk:Ek het dit altyd gehaat om oor geld te praat. Ek weet. Ek weet. Mens moenie se haat nie, maar dis waarskynlik die beste woord om dit te beskryf. Haat. My oupa sou se dis ‘n baie sterk woord vir ‘n ligter emosie. Ek dink ons haat dit om oor geld te praat omdat dit so onvoorspelbaar is. Ons almal het al verhale gehoor van mense wat alles verloor het. Makelaars het soms ‘n slegte naam want hulle herinner ander dat jy nie vir ewig gaan leef nie. Sal jou gesin genoeg geld hê indien jy die emmer skop? Wat van jou krediet? Dit voel alles so vloeibaar en onvoorspelbaar. Finansiële dienste maatskappye weet natuurlik dat ons daaroor bekommerd is, en daarom wil hul advertensies vir ons gemoedsrus gee dat ons geld veilig is in hul hande. Dink aan die embleme van Sanlam en Santam. Dis hande - Jy is veilig. Ons sal mooi na jou lewe en geld kyk. En tog haat ons om oor geld te praat. Ons lees artikels van kospryse wat opgaan, en dit maak ons bekommerd. Ons hoor van die petrolprys wat die hoogte van Tafelberg gaan tref en ons is meer gespanne as ‘n tiener wat sy rapport moet huis toe vat. Skriflesing:Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 'n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit. Die paasfees van die Jode was naby. Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?” Dink anders oor geld. Te midde van ons vrees om oor geld te praat in die kerk, wil ek graag ‘n paar gedagtes met jou deel oor hierdie teks. Die eerste is dat Jesus se wonderwerke van voorsiening altyd gebeur met dit wat daar is. Anders as die manna in die Ou Testament wat oornag in die woestyn verskyn, gebruik Jesus twee lewe-gewende elemente van daardie tyd waarin Hy op aarde is – brood en vis.
Dis reeds daar. Matteus, Markus en Lukas vertel net soos Johannes hierdie verhaal van Jesus wat wonderbaarlik die brood en vis vermeerder. So die mense het nie eintlik nie genoeg hulpbronne om in Jesus se teenwoordigheid te bly nie. Daar is nie genoeg kos nie. Hulle wil waarskynlik bly, maar dis soveel makliker om na Jesus te luister wanneer jy ‘n toebroodjie eet. Dieselfde geld vir vandag nog. Ons luister makliker wanneer ons nie moeg en honger is nie. Jesus daag dan die mense uit om nuut te dink oor dit wat hulle het. Hy begin deur die dissipels uit te daag oor wie die katalisator is vir verandering. 'n Kind. ‘n Seun het die vis en brood – Hy het voorbereid opgedaag om werklik na Jesus te luister. Het jy vandag so hier opgedaag, of is dit net deel van jou weeklikse roetine? Het jy voorbereid opgedaag om te sien dat God jou lewe sal verander? Wanneer ek en jy dink oor geld dan sien ons dat hier gepraat word van genoeg hulpbronne om werklik te kan leef. God gee nie vir elkeen van ons dieselfde hoeveelheid geld nie, maar dis nie ‘n aanduiding van Sy genade nie. Net omdat jy meer geld het as iemand anders, beteken nie dat God meer liefde vir jou het nie. Geld is nie ‘n aanduiding van seen nie, maar ons wil dit so maak. Dis makliker om te glo dat daardie primitiewe idee beter as die teendeel. Die teendeel is dat God uit bietjie vis en brood genoeg gee vir elkeen om naby Hom te kan wees. Dis wat ons hier sien gebeur. Die mense het genoeg om te eet sodat hulle kan bly in God se teenwoordigheid. God gee vandag vir jou genoeg, of jy baie geld of min het, om in Sy teenwoordigheid te bly. En dan die laaste deel is so belangrik. Dit wat oorbly word bymekaar gemaak. Niks moet verlore gaan nie. My skoonpa het ‘n hospitaal bestuurder gehad wat altyd se: “Iemand wat weet hoe om R10 te gebruik is sterker as iemand wat R100 het, maar dit nie reg gebruik nie...” Ons moet na geld en hulpbronne anders begin kyk in die algemeen. Geld is nie ‘n kommoditeit nie, dit is ‘n hulpbron wat die wil van God moet doen in ons lewens en vir diegene wat rondom ons is. Dis daar sodat ons in God se teenwoordigheid kan bly en genoeg kan gee vir die mense wat in ons lewens geplaas is. Dis die heel belangrikste. En dan natuurlik met die volgende wete: “As geld vir jou ‘n kommoditeit word, sal mense ook.”
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |