'n 4 weke erediens reeks oor geloofsekerheid:Die afgelope week se stiltetyd was soms moeilik vir my. Ek was besig om die reeks van 40 dae in die Woord af te sluit, maar ook om te beplan vir die volgende reeks. Dinge het soms te veel gevoel vir my. Daardie oomblikke van angs het my terug gebring na wat die Woord sê oor ons as mense. Ons word geroep om te vertrou op God. Hy voorsien altyd. Die Woord is daar om vir ons geloofsekerheid te bring. Om te weet dat ons kan glo, Hy is lief vir ons. Daarom hierdie reeks. Omdat ek soms angs beleef, en ek weet jy ook, en omdat ek weet dat ek Een ken wat die angs wegneem deur te sê jy kan Hom vertrou! Groete en seën, Ds. Gerrit Vandag se eredienste:Geloofsekerheid bring vertroue, maar dit vra ook iets van ons. Jy kan die eredienste hier kyk, of jy kan afbeweeg en die preek lees as 'n teks:
Skriflesing: Lukas 18:9-14Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar: 9 Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10 “Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar. 11 Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12 Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’ 13 “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ 14 “Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.” Skriflesing: Jesaja 40:12-1312 Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg? 13 Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees? Geloofsekerheid bring vertroue (Vind God in jou omstandighede)Daar is so baie maniere om oor geloofsekerheid te praat. In hierdie boodskap wil ek kortliks fokus op die feit dat elkeen van ons maar soms verlate voel van God, en dan wil weet dat God by ons is. Dis presies wat gebeur in hierdie verhaal wat Jesus vertel van die Fariseër en die tollenaar. Eersgenoemde is duidelik 'n gesiene man. Hy dink mense weet wie hy is. Hy wil gesien word, maar dis asof Jesus hom 'nie raak sien nie'. Hy het ook 'n diep behoefte om raakgesien te word. Daarom kyk hy na bo. Daarom praat hy hard. Daarom vergelyk hy homself met ander. Dis juis daardie vergelyking met die tollenaar wat wys dat hy sukkel met geloofsekerheid.Geloofsekerheid gee 'n vertroue dat ons maar onsself kan wees. Ons hoef ons nie met ander te vergelyk nie. Ons kan maarnet wees. Daarom daag ek jou uit om eerder die tweede persoon te wees. Wees die tollenaar. Wees 'n mens watbereid is om by God se genade te begin. Gelowiges wat genade soek, is mense wat God vind. Mense wat vertel wie hulle is, is nie mense wat wys hoe groot God se genade is nie. Wil jy werklik groei in vertroue dat God met jou is. Fokus op jou eie groei. Wanneer jy dan in jou lewe begin delf sal jy nie net God se goedheid sien nie, maar ook Sy deeglikheid. Dis waarmee die tweede teks in Jesaja ons help. Ons sien hier hoe presies God is. Die feit dat Hy alles presies afmeet. Ek glo ook dat God 'n presiese God is. Niks is toevallig vir Hom nie. Dit wat Hy mee besig is in jou lewe is ook presies, en deeglik. Jy kan Hom vertrou! Amen! Dankie aan diegene wat wil help met bemoediging van ons lidmate:Ons as gemeente het besef dat daar baie lidmate is wat eensaam is en smag na teenwoordigheid, smag na mense, daarom wil ons graag 'n bediening begin om om te sien na daardie lidmate se welstand. Indien jy graag sou wou deelraak van die bediening, kontak gerus die kerkkantoor. Daar is reeds lidmate wat aangedui het dat hulle wil help met hierdie bediening, maar ons benodig nog vier lidmate wat kan help. Indien jy wil deel wees, kontak die kerkkantoor. Barmhartigheid:Indien u betrokke wil raak by die gee van kospakkies kan u vir Andries Nel kontak. Sy kontakbesonderhede is op ons webtuiste, of u kan ook die kerkkantoor kontak. As gemeente is ons ook bewus dat daar dalk meer gesinne is wat finansiële uitdagings gaan beleef in hierdie tyd. Ons kan ook help met gedeeltelike kospakkies sodat jy jou finansies kan gebruik om dit te betaal wat die gemeente nie vir jou kan doen nie. Maskers vir skole duur voort!NB: BAIE DANKIE AAN ELKEEN WAT AL MASKERS GEMAAK HET. ONS PROJEK GAAN VOORT TE MIDDE VAN DIE SKOLE WAT WEER GESLUIT IS. Alhoewel die regering alle skole van die nodige PPE (personal protective equipment) moet verskaf wanneer skole heropen, kan ons as gemeente help deur seker te maak dat daar genoeg maskers by skole is vir die dae wat kinders hul maskers verloor of vir die kinders wat nie dalk nie kry nie. U kan ‘n masker maak deur op ons webtuiste te kyk na ‘n basiese ontwerp. Tuisversorging beskikbaar!Mev Bettie Marais 082 681 7304.
Sy bied haar dienste aan om mense wat tuis siek of verswak is te versorg.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |