Wie preek?Gerrit Visser Wat is die tema?Alleen dan! Waaroor gaan dit?Om Jesus te volg vra opoffering. Dis presies waarop die klem val in hierdie teksverse. Alleen dan, alleen wanneer ons opoffering verstaan, kan ons dieper beweeg na 'n voller verhouding met Jesus Chirstus. Afkondigings:Jy kan vandag se afkondigings hier aflaai: Wat is die teksverse?1 Petrus 2:21 / Fil. 2:15 Votum en Seëngroet:Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld 16deur die woord van die lewe uit te dra. (Fil. 2:15) Hoe lyk 'n ligdraer se lewe? Is 'n ligdraer se lewe perfek? Kan ligdraers sondaars wees? Kan ligdraers mense wees wat groot foute maak? Kan ligdraers moeg raak? Kan ligdraers huil? Kan ligdraers baklei. Die vraag is nie of hulle kan nie. Die Bybel is duidelik daaroor. Ligdraers doen soms hierdie dinge. Ligdraers is nie perfek nie, ligdraers weet waar hul hulp vandaan kom. Elkeen van julle wat hier is vandag is dus ligdraers. Elkeen. Maak nie saak hoe perfek jy dink jy is, of nie is nie. God spreek Sy seën oor almal uit, ook oor jou. Mag die genade van God die Vader, die liefde van Sy Seun, en die bystand van die Heilige Gees U lei in hierdie diens as Sy ligdraers. Amen. Toetrede:As toetrede sing ons vanoggend Lied 176. Hallelujah, U is Koning. Ons aanbid U, in U woning. Kinderoomblik: Die regte lig vir die regte plek...Hier is 'n paar voorbeelde van verskillende ligte wat jy kan gebruik vir verskillende oomblikke of gebeure. Die eerste is 'n tydskakelaar. Dis bedoel vir buite 'n huis, nie binne-in 'n huis nie. Dit gaan of aan op 'n sekere tyd van die dag vir 'n ruk, of wanneer daar beweging onder dit is. Ek dink nie jy gaan lekker slaap met hierdie tipe skakelaar-en lig in jou kamer nie. Elke keer wanneer jy omrol gaan die lig aanskakel. Maar dis dan 'n ligskakelaar. Dit gee lig. Dit sal help. Ja, dit sal. Maar nie in die slaapkamer nie. Dieselfde geld vir elkeen van hierdie ander ligte. As jy byvoorbeeld daardie derde kampliggie gebruik vir buite jou huis om diewe op te tel soos 'n tydskakelaar of tipe "motion sensor" sal dit ook nie werk nie. Maar dis dan 'n lig, sal jy dalk dink? Maar dis op die verkeerde plek. Ons almal is God se ligdraers, maar hoe ons daardie lig dra is belangrik. Soms het die wêreld nodig dat ons lig geskyn word sodat dit korrupsie of foute uitwys. En ander kere gaan dit oor iets anders. Ander kere het ons nodig om kampliggies te wees, wat op sekere tye vir lank lig gee en dan weer opgeslaan word op 'n ander plek. Miskien is dit dalk wat die persoon wat die boek Prediker bedoel het toe hy geskryf het dat daar 'n tyd en 'n plek vir alles is. Hoe wil jy jou lig vandag laat skyn vir die wêreld rondom ons? Geloofsbelydenis: 12 ArtikelsOns gaan nou saam ons geloof bely, gevolg deur die sing van lied 175. Skriflesing en Prediking:
Laas week se tema was die nag van betekenis. Dit het gegaan oor daardie eerste nag in die berg saam met Sy dissipels. Die nag waarna Jesus Sy dissipels gekies het. Sy tyd van deurnag bid in Lukas 6 het een doel gehad. Om te bid vir Sy volgelinge. Vir diegene wat wonder waaroor laas week se preek was, hier is die skakel om daarna te kyk:
Dit is namate sy Gees en gesindheid in hulle woon, dat die wêreld oortuig sal word. Ons lees daarvan in Johannes 16:7-8. Jesus verduidelik dan verder ook dat elkeen van hulle hul lig moes skyn. Hy sê in Matteus 5:16 dat hulle lig so moet skyn dat diegene wat dit raaksien God in die hemele daarvoor moet dank. Die doel van die lig wat geskyn word is dus sodat almal na Christus se lig uiteindelik kom, nie na hul eie lig nie. Paulus fokus baie op hierdie tema van lig wat geskyn moet word. Hy druk die roeping van alle gelowiges dan pragtig uit in een van die fokustekste vandag. Hy sê dat “kinders van God is”, en dan verder “sonder gebrek onder ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld.” Hoor die pragtige woorde van hierdie teks. Eerstens beklemtoon Paulus diegene wat hierdie teks hoor se identiteit. Hulle is kinders van God. Ek en jy is ook kinders van God. Die tweede deel is “sonder gebrek”. Die vraag is waarna hierdie “sonder gebrek” verwys? Dit kan net twee opsies wees. Dit is of dat die “sonder gebrek” verwys na ons wat sonder sonde is, sonder foute. Of dit is dat die frase verwys daarna dat ons “sonder gebrek” is, in die sin dat ons niks nodig het nie. Dis die tweede opsie. Ons het alles wat ons nodig het om ons lig so te laat skyn dat almal kan glo. Dit is in Christus. So, waarom is dit dan gelowiges al meer en meer geminag word in die wêreld? Dalk het ons probeer om te perfek te wees, en te min om net Christus se lig uit te straal. Die opdrag is dat ons steeds ons lig moet uitstraal, en dat Hy ons sal bemagtig om dit te kan doen, maar ons as kerk sukkel daarmee. Ons het nie altyd ‘n goeie rapport-kaart as dit kom by “ons lig uitstraal” nie. Soms kyk ek na die kerk waaraan ons behoort, nie die gemeente nie, en vra of ons werklik besig is om ons beste te gee wanneer ons Sy lig moet uitstraal? Die enigste manier om te weet of ons die toets slaag is om te kyk na die items wat op die rapport-kaart is. Christus kom wys self vir ons wat die verskillende items is. Die hele Nuwe Testament is vol daarvan. Die vrug van die Gees. Nege belangrike elemente oor hoe om te leef. Doen ons dit, of dit nie? Dis ‘n manier wat ons Sy lig uitstraal. Alleen dan, alleen wanneer hierdie ligstraal elemente deel is van ons lewe, kan die wêreld glo. Verder moet ons kyk na die evangelies. Die verhale van Jesus se lewe op aarde. Slaag ons die rapport-kaart wanneer ons daardie verhale lees. Wanneer ons lees wat Hy van die dissipels vra, kan ons nie anders as om te sê dat een van die grootste redes waarom die wêreld nie glo nie, ons swak voorbeeld is. En ek sal dit vir julle illustreer vandag. Sal ons vir Jesus Christus voorsitter van die sinode maak? As ons doen, sal Hy vir ons sê dat ons moet ophou om gemeentes toe te maak. Sal ons vir Jesus voorsitter van ons sinode se finansies maak? As ons doen, sal ons sien dat Hy van ons verwag om meer vrygewig te wees met ons geld. Hy sê mos ons moenie bekommerd wees oor die dag van more nie, maar dat ons Hom moet vertrou. Sal Hy mos voorsien. Sal ons Hom vertrou dat Hy sal voorsien as Hy hier is om fisies die voorsiening te illustreer? Ek is nie so seker dat ons Hom sal vertrou nie. En as ons Hom nie sal vertrou om voorsitter van ons kerk te wees nie, wat sê dit van ons geloof? Wat sê dit van hoe ons werklik voel oor die lig wat ons uitstraal? Ons gedrag maak nie dat Jesus voorsitter van die sinode, of wat ook al is nie. Hy is dit reeds. Hy is die hoof van die kerk. Dis ons wat soms leef asof ons die hoof van die kerk is, en nie Hy nie. Hy het nie die identiteitskrisis nie, ons het. Hy roep ons om Hom te volg. Alleen dan sal ons werklik ligdraers in die wêreld kan wees. Dit is alleen deur Jesus se voorbeeld na te volg, dat die wêreld sal kan glo. Ons het dus ‘n belangrike rol om te vervul in hierdie plan. Hy kyk na ons om die ligdraers te wees. Sy verteenwoordigers, maar ons mag nooit vergeet waarom ons dit doen nie. Ons mag nooit vergeet vir wie ons dit doen nie. In Lukas 9:24 sê Jesus wie Sy lewe lief het sal dit verloor. Miskien het ons so lief geraak vir die kerk omdat ons onsself daarin sien. Ons sien onsself daarin, en daarom is ons verkeerdelik lief daarvoor. Ons wil in die kerk wees omdat dit ons eie lewe weerspieël, omdat dit ons eie unieke lig uitstraal, maar nie noodwendig die lig van Christus nie. Miskien is ons orals besig om ons “kerk” te verloor omdat ons dit as ons lewe sien, en nie iets waarvan Christus die hoof is nie. Ons moet Sy lewe nastreef, alleen dan sal die wêreld glo. Alleen dan sal ons waarskynlik minder bekommerd wees oor wat ons kan verloor, en meer oor diegene wat Hom nie ken nie. Ons opdrag bly steeds om Sy lig vir daardie mense uit te straal. En ek weet dat Jesus gesê het dat die wêreld nie altyd sal glo nie, maar daar is ook seisoene in die wêreld se geskiedenis waar almal geglo het, en mense nader gestaan het. Daardie seisoene, daardie eeue was gekenmerk deur gelowiges wat onselfsugtig geleef het en Sy lig uitgestraal het. Hul eie lig was nie belangrik nie. Ek verwys nou na die eerste 300 jaar na Jesus se koms na die aarde. Dis in hierdie tyd dat die geloof in Jesus Christus wêreldwyd begin versprei. Selfs so ver as Indië. Die oomblik wanneer daardie geloof, daardie lig nie meer uitgestraal was nie, was wanneer dit aardse mag begin bekom. ‘n Kykie na van die vreeslike misdade wat deur die kerk, en ook kerke gepleeg was tussen 1054 en 1750 is ontstellend, en beslis nie die voorbeeld van Christus nie. Dit was beslis nie om Sy lig uit te straal nie. Wanneer die kerk te veel mag het om oor te roem, en te min dien, is daar altyd ‘n kans dat daardie mag misbruik sal word, en dat ander seergemaak sal word. Alleen dan, alleen wanneer ons bereid is om ons mag prys te gee, kan ons werklik Sy ligdraers wees in die wêreld. Jesus gee ons die versekering dat wanneer ons Sy ligdraers is, ons nie te kort sal skiet nie. Waarom? Want ons voel Sy teenwoordigheid in ons lewens. Ons is sonder gebrek. Hy bemagtig ons met Sy lig. Paulus gee hierdie bemagtiging dan verder vir ons ook. Hy sê in Fil. 2:15 die volgende: “... ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra...” Wat is hierdie woord van die lewe? Die woord van die lewe is wanneer ons die lewe net leef soos wat dit elke dag oor ons pad kom, nie bekommerd oor wat more gaan lewer nie, maar gefokus op die oomblik. Het jy al gesien hoe Jesus altyd vasgevang was in die oomblik. Iemand wat blind was, was nie net blind nie, dit was ‘n geleentheid om Sy Vader se liefde uit te straal. Iemand wat water soek by ‘n put in Samaria was nie net dors nie, hulle dors na Hom. Dit was ‘n geleentheid. Miskien het ons die geleenthede gemis omdat ons nie ons lewens wil behou. Paasfees herinner ons aan opofferings. Dit herinner ons aan Christus wat vir ons sterf. Dit herinner ons dat ons nie die hoof van die kerk is nie, maar dat Hy is. Hy roep ons om Sy liefde en Sy lig van die lewe uit te straal. Alleen dan, net dan, sal die wêreld glo. Alleen dan. Alleen dan, wanneer ons weer bereid is om op te offer soos meer as 1700 jaar terug sal ons werklike en ware groei sien in mense wat Jesus weer volg. Alleen dan. Jy is deel van daardie plan. Kom meld aan. Wie se lig skyn jy vandag? Reflekteer jy bloot jou eie lig in ‘n pragtige konteks soos hierdie gebou, of is jy werklik besig om Sy lig uit te straal. Amen. Slotlied: Lied 528 / Lied 519
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |