Tema:Liefdesdissipline! Wie preek?Gerrit Visser Afkondigings:Is dit nie pragtig om te sien hoe sterk God die natuur gemaak het nie! Ons staan verstom oor die verskillende maniere wat God Sy mag deur die natuur wys. En nou praat ek nie van natuurrampe nie, asseblief. Dis Moedersdag. Geen gesprekke oor natuurrampe nie. En om na jou ma as ‘n tsunami te verwys wanneer sy jou kamer opruim bly nie mooi nie. Nie net op Moedersdag nie. Ons lei vandag se erediens in waar ons praat oor die statiese krag van die natuur. Die manier wat sekere plante deur dik en dun kan vasbyt, maak nie saak wat nie. Die duursaamheid van ons Suid-Afrikaanse Flora is dan ook ‘natuurlik’ wêreldbekend. In besonder die plante van die Karoo, en dan ook die Groot Karoo. Hierdie plante is duursaam. Sonder water of enige reën kan hulle aanhou bestaan. Veral die ‘desert rose’. Adenium Obesium. Dis Latyn – vir moenie met jou ma sukkel nie... Ons ken die ‘desert rose’ goed omdat dit ons herinner aan intense skoonheid in ‘n plek waar dit moeilik bekombaar is. Ons verwag nie die kleurrrykheid daarvan in die soms grys-geskakeerde woestyn streke van ons land en Suiderlike Afrika nie. Dis die feit dat dit so onverwags is, wat tot gevolg het dat ons die skoonheid daarvan so waardeer. Maar as jy by ‘n blommeskou die ‘desert rose’ langs rose uit die Koningin se privaat versameling sal plaas, sal dit afgeskeep lyk – nie opgewasse teen die taak om eers met daardie mooi rose in dieselfde vertrek te wees nie. Totdat daardie onervare blomme kyker hoor in watter omstandighede daardie adenium obesium moet leef. Daarna sal daardie ‘desert rose’ dalk die belangrikste blom by die skou word, en nie omdat dit meer belangrik is as die ander nie. Alle blomme en veral alle rose is ewe pragtig. God het dit immer gemaak, maar omdat die storie gehoor was. Vrouens in die algemeen is vir my soos hierdie adenium obesium, nie oor hul snaakse name nie, maar oor al die redes wat ek sopas genoem het. Meeste van alles omdat elke vrou ‘n verhaal het wat hul sterk maak. ‘n Verhaal, dat indien jy dit sou hoor, jy sou sê jy is die mooiste vrou op aarde. Nie omdat jy beter is as die vrou langs jou nie, maar omdat jy ‘n unieke verhaal van deursettingsvermoë het. Daarom is ons as gemeente bly om die moeders in ons gemeente te vier, maar dis so nou om net al die moeders te vier wat biologiese kinders het. Baie moeders is geestelike moeders vir individue, of moeders wat kennis oordra aan groepe. Ons vier alle vrouens – veral op hierdie Moedersdag. En nou is dit ons voorreg om vir God te vra om ook hierdie erediens te seën. Gebed:Here, dankie dat U die aarde vul met kragtige natuurverskynsels, soos hierdie ‘desert rose’. Dankie dat ons herinner aan U glorie en U genade, en dankie dat ons daarin ook die liefde en deursettingsvermoë van alle vroue kan sien. Amen. Votum en Seëngroet: Gemeente, genade vir U en vrede, van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van Sy Heilige Gees. Toetrede: As toetrede sing ons vanoggend lied 169 in die Liedboek. Nou dat ons herinner word aan God se krag in die natuur kan ons nie anders as om te nader met die woorde: “Heilig, Heilig, Heilig.” Direk na ons dit gesing het kan ons staan en luister na die Apostoliese geloofsbelydenis. Apostoliese geloofsbelydenis:Ons bely dit saam met mense wêreldwyd. Inleiding tot God se Woord: Die tema vir vanoggend se erediens is ‘liefdes dissipline”, want om waarlik kragtig te kan lief hê moet dit ook geneem word as ‘n keuse. Dit kan nie net romanties wees nie. Ek en jy word gelei om die natuur, die wêreld, en ook ons mede-mens, onsself, en ‘natuurlik’ ook God as gedissiplineerde dissipels lief te hê. En dit neem vorming. Ons word nie een oggend wakker en dan is ons elkeen die beste dissipels wat ons kan wees nie. Dit neem harde werk. Intense gebed. Selfopoffering. Om in ‘n werklik dieper verhouding met Jesus Christus te gaan vra dat jy sal lief hê selfs al is jy nie lus daarvoor nie. Ons spot soms in die kerk deur te sê ons het almal lief, maar ons hou nie van almal nie. Daardie stelling veronderstel dat jy die persoon van ‘n afstand af alleenlik kan liefhê, maar nie van naby af nie. Jy hou mos nie van hulle nie. Liefdesdissipline is nie om iemand lief te hê, maar nie van hulle te hou nie. Dit maak van liefde net ‘n woord, iets wat in beginsel waar is, maar wat nie daadwerklik nagestreef kan word nie. Kan jy dink dat Jesus sou sê dat Hy lief is vir al Sy dissipels, maar dat Hy nie altyd van hulle almal hou nie? Nou waarom doen ons dit? In hierdie hele reeks het ons gesels oor hoe belangrik dit is om as ‘n dissipel van Jesus agter Hom aan te stap. Om die waarheid te sê, die woord dissipel kom van die woord ‘gedissiplineerd’ of ‘gedissiplineerde persoon’ af. Ons stap agter Jesus aan, en dit vra dat almal wat rondom ons nie net deur ons liefgehê moet word nie, maar dat daar ‘n poging gemaak moet word om ook van mekaar te hou. Hoe anders kan ons as ‘n groep dissipels saam vir die wêreld wys dat Jesus leef, as dit nie is deur die feit dat ons in mekaar se geselskap wil wees! As jy hou van iemand, wil jy naby aan hulle wees, want hul verhaal trek jou nader. Wanneer jy nie omgee nie, dan sê jy ek is lief vir hulle, maar ek hou nie van hulle nie. En ons almal het dit al gedoen. Verklaringslied:Ons gaan nou lied 530 se vers 2 en 3 saam sing, waarin ons gaan verklaar dat ons sonder liefde niks is nie. Kom ons staan daarvoor. Skriflesing en Prediking: In vandag se erediens wil ek vir jou drie sleutels gee vir die gedissiplineerde liefdeslewe wat God van ons vra wat jou dalk sal verbaas. Met elke sluetel sal ek vir jou ‘n vers of frase uit die Bybel gee. Beginsel 1: Koppel jouself aan ‘n proses van groei, as aan ‘n doellose bestemming: Nie een van ons gaan eendag dood en het perfek liefgehad oos God dit van ons vra nie. Daar is nie een nie. Om die waarheid te sê ek is seker dat wanneer ons sterf en ons God se genade in Sy volheid sien, ons sal besef dat ons dinge anders kon doen. Dit moet eerder ‘n proses wees, waardeur elke dissipel van Jesus getuig dat Hy of Sy wil groei in liefde elke dag. Hoor wat sê God vir Jeremia in hierdie volgende teksverse: 1 Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: 2 Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat. 3 Ek is toe af na die pottebakker se huis toe, en hy was juis besig om iets op die skyf te maak. 4 Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê. 5 Toe kom die woord van die Here tot my: 6 Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel. In hierdie baie bekende teksverse herinner die Woord van die Here ons dat God se liefde altyd weer sal probeer, omdat dit konstant is, soos daardie ‘desert rose’. God se liefde hou nooit op nie... Hy vorm ons altyd. Net omdat ons nie hou van die spesifieke vormwerk waarmee Hy besig is nie, verander niks aan die feit dat Hy wel besig is nie. Sy liefde wat konstant aan ons vorm, moet ons herinner dat ons liefde vir mekaar en vir onsself ook ‘n dissipline moet wees wat konstant vorm. Dis ‘n proses. Dit hou aan. Ek en jy gaan nooit perfek liefhê nie, maar ons kan onsself wel toewy aan ‘n proses om altyd meer lief te hê. Beginsel 2: Dissipline gee vrede! Daar is hierdie leuen wat soms onder jongmense is, veral toe ek jonger was, dat dissipline jou aan bande wil lê. Jy moet eintlik net kan doen wat jy wil. Dis nogal ‘n beweging wat in die sewentig wêreldwyd versprei het. Flower power man! Dissipline is uit, doen wat jy wil, is in. In die volgende verse van Maleagi 2 sal jy sien dat wanneer jy gedissiplineerd lief is vir jouself, en jou naaste, as dit kom vanuit ‘n poging om van jou naaste te hou, dat dit vrede gee. 4 Dan sal julle besef dat Ek vir julle dié bevel gestuur het sodat my verbond met Levi kan bly bestaan, sê die Here die Almagtige. 5 My verbond met Levi sou vir hom lewe en vrede bring, en dit het Ek hom gegee. Hy het My met eerbied gedien en vir my Naam ontsag gehad. God praat hier deur Sy profeet met die mense wat die naaste staan daaraan om Sy liefde te wys. Hy praat met die priesters en leviete. God sê dat liefde as ‘n dissipline vrede gee, want dit herinner ons aan Sy verbond. Wat beteken die woord ‘verbond’? Dit beteken dat God met ons ‘n pad van liefde kies selfs al dwaal ons af. Waarom is die verbond daar? Om ons te herinner aan God se nabyheid. Daarom, wanneer ons gedissiplineerd liefhet, kies ons vir vrede en vryheid. Ons kies dan ook om Sy nabyheid vir ander te wys, en vriende die wêreld smag daarna om God se nabyheid te beleef. Beginsel 3 is in Job 36:16. Ek gaan dit eers lees, en daarna kan ons daaroor gesels. 16 God het jou na Hom toe getrek, weg van gevaar af, Hy het jou veilig laat lewe, dit was rustig aan jou tafels vol oorvloed. Hier sien ons ‘n volgende beginsel vir lewe wat gekenmerk word deur gedissiplineerde liefde: Om aan te hou liefhê, gee stabiliteit. God trek ons daagliks weg van sekere gevare af deur Sy liefde wat konstant is. Elkeen van ons is opsoek na daardie stabiliteit, en wanneer jy gedissiplineerd lief is vir almal rondom jou, sal hulle ook kan weet dat God hulle altyd liefhet. Gaan leef so op hierdie Moedersdag. Amen. Slotlied:Ons sluit af deur lied 528:1 en 2 saam te sing. Seëngroet: Ontvang dan nou die seën van die Here, en gaan huistoe met Sy vrede. Die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God die Vader, en die nabyheid van Sy Heilige Gees sal met julle wees en bly.
Amen.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |