“In a world of fugitives the person taking the other direction will appear tot o run away” – TS Eliot
“You will know the truth and the truth will make you... odd” – Flannery O’Connor Hierdie aanhalings herinner ons dat die mense wat soms die waarheid praat, die mense is wat nie verstaan word nie. Soms is dit die opinies wat teen die gewone idees is wat die waarste is. Jesus het immer gesê: “Die waarheid maak ons vry...” Votum en Seëngroet: Genade vir julle en vrede, van God ons Vader, en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van sy Heilige Gees. Amen. Skriflesing: Jeremia 28:1-17 Die vals profeet Gananja 1 In daardie tyd, in die vyfde maand van die vierde regeringsjaar van koning Sedekia van Juda, dit was dus in die eerste deel van sy regering, het die profeet Gananja seun van Assur uit Gibeon vir my in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk in die huis van die Here gesê: 2 “So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek sal die juk wat die koning van Babel julle oplê, verbreek. 3 Oor twee jaar sal Ek al die voorwerpe uit my tempel, wat koning Nebukadnesar van Babel uit hierdie plek uit na Babel toe gevat het, hierheen laat terugbring. 4 Ek sal ook vir koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, en al die ballinge van Juda wat deur Nebukadnesar na Babel toe gevat is, na hierdie plek toe terugbring, sê die Here, want Ek sal die juk wat Babel se koning julle oplê, verbreek.” 5 Toe antwoord die profeet Jeremia die profeet Gananja in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk wat in die huis van die Here gestaan het. 6 Die profeet Jeremia het gesê: “Ek sou dit ook graag so wou hê. Mag die Here dit doen. Mag die Here bevestig wat jy as profeet gesê het en die voorwerpe uit die huis van die Here en al die ballinge na hierdie plek toe terugbring uit Babel. 7 Maar luister tog na wat ek nou gaan sê sodat jy en die hele volk dit kan hoor. 8 Die profete uit die dae voor jou en my het lankal vir baie lande en oor groot koninkryke oorlog en rampe en peste aangekondig. 9 Maar die profeet wat voorspoed aankondig, is net aanvaar as profeet wat werklik deur die Here gestuur is, wanneer so 'n profeet se woord uitkom.” 10 Toe vat die profeet Gananja die juk van die profeet Jeremia se nek af en breek dit stukkend. 11 Gananja het voor die hele volk gesê: “So sê die Here: So sal Ek oor twee jaar die juk verbreek wat deur koning Nebukadnesar van Babel gesit is op die nek van al die nasies.” Die profeet Jeremia is toe daar weg. 12 Nadat die profeet Gananja die juk op die profeet Jeremia se nek gebreek het, het die woord van die Here tot Jeremia gekom: 13 Gaan sê vir Gananja: So sê die Here: Jy het houtjukke stukkend gebreek. In plaas daarvan sal jy ysterjukke dra. 14 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek sit 'n ysterjuk op die nek van al hierdie nasies: hulle sal vir koning Nebukadnesar van Babel dien. Hulle sal hom dien, en Ek stel ook die wilde diere tot sy beskikking. 15 Die profeet Jeremia het toe vir die profeet Gananja gesê: Luister, Gananja! Die Here het jou nie gestuur nie. Jy laat hierdie volk staatmaak op leuens. 16 Daarom, sê die Here, gaan Ek jou wegvee van die aarde af. Jy sal vanjaar nog sterf, want jy het opstand teen die Here gepreek. 17 In die sewende maand van daardie jaar is die profeet Gananja dood. Wat jy moet verstaan van Gananja en Jeremia: Jeremia het ‘n profesie vir die koning gaan maak. Dit was ‘n profesie wat gekoppel is aan die politieke omgewing waarbinne die volk hulself gevind het. Die konteks was as volg: Assirië en Babilonië was albei groot moonthede in daardie tyd en het saam met Egipte al die politieke mag gehad. Reg in die middel was Israel en Juda, waar Jeremia en Gananja geprofeteer het. Assirië en Babilonië was albei lus om nommer een te wees, en almal in die omgewing moes kant kies, ook Israel en Juda. Net soos vandag het elkeen in die volk Israel en Juda ‘n opinie gehad oor of die volk en hoe die volk behoort te raak. Gananja was een van hulle. Jeremia het eerder na God geluister. Jeremia het ‘n houtjuk geneem en oor sy skouers gegooi en na die koning gegaan. Die juk was ‘n metafoor oor die slawerny waarbinne die volk sou beland as hulle sou betrokke raak by hierdie politieke uitdagings. Gananja het die houtjuk gebreek en gesê God sal die juk van die Assiriërs breek. Jeremia het gesê dat dit nie sin maak nie, en dat die juk nog groter sou wees. Die juk sou van brons of selfs silwer wees – Dit sou Gananja nie kon breek nie. Niemand sou nie. Jeremia verduidelik dan om te sê dat of profete korrek is, afhang van of wat hulle gesê het waar word of nie. Jeremia se profesie sou waar word, selfs al het die koning na Gananja geluister. Gananja se profesie was gebaseer op ‘n verkeerde verstaan van die feite wat nie net voor hom was nie, maar ook voor die koning. Daardie selfde feite was voor almal, so hoe is dit dat almal dit verkeerd opgesom het, behalwe Jeremia. Nou neem ek julle na die tweede wêreldoorlog toe. Daar is twee mans wat se lewens wat presies opsom wat hier gebeur. Nazi Duitsland is op die verkeerde pad. Dis besig om mense se lewens te verwoes. Die eerste die bekende teoloog Diedrich Bonhoeffer. Die manier wat hy die waarheid aanhou verkondig in die midde van Nazi Duitsland eis sy lewe. Die Nazi’s sou hom vermoor ‘n paar dae voor die Nazi Ryk finaal val. Die ander man is Albert Speer. Hierdie bekende argitek sou een van Hitler se grootste vriende word in daardie tyd. Hy sou vas glo in Nazi Duitsland se ideale. Na die oorlog sou hy by Nuremberg verhoor om verskoning vra. Hy sou sê dat hy verkeerd was. Hy is dan ook die enigste Nazi wat nie die doodstraf sou kry by hierdie verhoor nie. Hy het twintig jaar se tronkstraf ontvang vir sy aandeel aan die Nazi bewind. Hy was een van die argitekte van die moord van meer as 6 000 000 Jode. Hoe kon Speer so verkeerd gewees het oor Nazi Duitsland, en Bonhoeffer so reg? Hoe gebeur dit vandag nog dat ons as mense soms die feite so verkeerd kon opsom? Dit gaan oor onderskei wat die waarheid is, en wat die leuen is. Hoe mens die waarheid interpreteer hang af van die tipe mens wat mens is. Die valse probleem, asook Speer so probleem was nie hul interpretasie wat verkeerd was nie, maar eerder hul beginpunt. Hulle het nie begin by God en hul eie motiewe geken nie. En daarom was hulle albei verkeerd. Hulle het gefaal om God waaragtig te ken. Die morele verval van die volk, net soos Nazi Duitsland het tot gevolg gehad dat hulle nie meer oor die kapasiteit of karakter beskik het om God se woord reg te hoor nie. Die gevolg was dat die volk gewoon oorgegaan het tot kant kies en geweld pleeg. Maar daar is nie altyd ‘n bloudruk vir onderskei tussen die morele en die immorele, die ware en die valse lewe nie. Ek sluit af deur met jou ‘n verhaal te deel wat Henri Nouwen geskryf het oor ‘n jong vlugteling wat in ‘n klein dorpie gaan wegkruip het. Die mense van die dorp was baie gaaf en het skuiling gebied vir hierdie vlugteling. Na ‘n paar dae het daar ‘n groep soldate opgedaag en gesoek na die vlugteling. Die hele dorpie het geweet waar die vlugteling skuil, maar wou niks sê nie. Die soldate het gedreig om almal te vermoor as die vlugteling nie aan hulle uitgelewer word nie. Die dorpie het die predikant gevra om hulp. Moes hulle die vlugteling oorgee, of self sterf? Die predikant het begin bid en heel aand die Bybel gelees opsoek na die antwoord op hierdie dilemma. Vroeg die oggend het die priester by ‘n vers gekom wat praat van een man wat namens almal moes sterf sodat almal sou leef. Hy het sy antwoord gehad, en die vlugteling was oorgelewer aan die soldate. Die dorp het fees gevier, aangesien hul lewens gespaar was, maar nie die predikant nie. Daardie aand het ‘n engel die predikant besoek en vir hom gesê: “Hoe kon jy daardie man uitlewer? Dit was die Messias.” Die predikant het geantwoord: “Maar hoe sou ek dit geweet het?” Die engel het geantwoord: “As jy minder Bybel gelees het, en hom gaan leerken het, en in Sy oë gekyk het, sou jy geweet het wie dit is...” Miskien moet ons Christus soek in mekaar se lewens. Miskien is dit ook deel van die oplossing van die morele verval wat ons so rondom ons sien. Miskien help dit om in Sy oë te kyk om die waarheid te kan ken. Hy het immers gesê: “Die waarheid sal julle vrymaak.” Gaan wees jy dan vry vandag in Sy Waarheid. Amen.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |