Wie Preek?Gerhard van der Merwe Skriflesing en Prediking:Jesus genees 'n man wat blind gebore is Almal fokus altyd met opstandingsondag op die vreugde van die opstanding van Jesus en Sy oorwinning oor die dood. Maar wat ons soms vergeet is dat die opstandingsdag nie so begin het nie. Dit het swaar begin. Met dood oral op die gesigte van Jesus se vriende geskryf. Vrees vir hulle lewe was deel van die gesigsuitdrukkings. Die sug was dieper as enige tyd van hulle lewe.
Ek en jy sug ook soms. Dalk meer gereeld as wat ons wil erken. Op oukersaand ry vriende van ons se kinders op saam met hul ouers in Marloffpark te gaan vakansie hou en die kersfees te vier. Alles is gereed gemaak en die kersversierings is beplan om die kleinkinders se wêreldjies met vreugde te skud. Maar skielik is daar skerp ligte reg van voor en voor jy nog kan dink aan reageer is daar ‘n siek geluid van ‘n botsing en almal wat gil. Oukersnag ontaard in ‘n nagmerrie. Waar jy eerder jou kleinkind op sy nuwe swaai wou stoot en ‘n kinderlaggie wil hoor, moet jy by ‘n motorwrak staan en sien hoe kake van die lewe werk om jou oudste seun uit ‘n motorwrak te sny. Gaan hy lewe? Soos die dag aangaan verander die ramp in beter nuus, en dan weer ‘n terugslag, dan weer hoop. Die onsekerhede vreet jou op. En dan die nuus dat jou kleinseun van 4 jaar sterf aan inwendige beserings. En skielik verander ‘n man wat altyd antwoorde het en geestelik sterk is in ‘n bondel vrae. Wat wil God met my kleinkind maak? Heinrich Gruber vertel in ‘n biografie na die 2e wêreldoorlog van sy ervaringe in ‘n konsentrasie kamp. Hy vertel van ‘n kapelaan wat altyd almal bemoedig en ondersteun het. Hy was hulle ruggraat om hulle geloof en uithouvermoë aan te blaas. Hy was die een wat hulle met bloedbevlekte klere bly inspireer het. Hou vas aan God!! En een more met sonopkoms moes al die gevangenes toekyk hoe hul sterk leier weggeneem word na die gaskamers. Wat wil God hiermee bereik? Albert Camus skryf in een van sy boeke:”Ek sal altyd twyfel in die liefde van God solank as wat ek kinders sien sterf.” As jy die donker kant van die lewe sien, glo jy dan nog? Hou jy nog vas aan ‘n God van genade en het jy regtig hoop? Hierdie vrae is niks nuuts nie. Deur die eeue heen kom al hierdie vrae na vore. Ons teks vertel van ‘n blinde man en sy leefwêreld. Toe hierdie teks geskryf was, was dit die oortuiging van die Jode dat enige gebrek was die resultate van God se straf. Sonde maak dat jy op enige wyse gebrekkig was. Verstandelik, liggaamlik, finansieel, siektes. Jy kan jou net indink wat alles in hierdie man se kop aangegaan het. Maak nie saak hoe hard jy probeer soek na God nie, elke keer keer jy terug na die feite. Ek kan nie sien nie. Iets groots is verkeerd. Die fout kan nie by God wees nie. So die fout moet eenvoudig by my wees. Hopeloos en donker. Vriende, waar Jesus op die toneel verskyn, is daar altyd ‘n nuwe en verrassende perspektief. Vers 3 sien ons Jesus se verrassende uitkyk op sy omstandighede. Hierdie man is blind – sodat God se werke in hom gesien kan word. God is duidelik nie in die blame and shame besigheid nie. By Hom is daar hoop en heling. Hy is groter as die pyn en vernietigende gebeure van ons lewens. Hy is nie gespanne oor die rampe wat elke dag ons bedreig en ons selfs soms tref nie. Hy word nie vasgevang soos ons oor die onvermydelike dinge van ons wrede werklikheid nie. Hy – Jesus die Christus – is verhewe bo die swaarkry. Hy bring oplossings. Hy laat mense lofliedere sing. Hy breek die bande van die dood en bring weer herstel en lewe in oorvloed. Hy is die lig in die duisternis. Swaar en seer is eenvoudig deel van die lewe. En hoe jy daarop reageer kan jou maak of breek. Dit kan jou met hoop laat opkyk of dieper laat daal in jou mismoedigheid. In ons wêreld is daar moord en doodslag, verkragtings en misvormde babas, inbrake en aanrandings, droogte en motorongelukke, stukkende lewens en hartseer. Waarna jy kyk gaan bepaal wat jy gaan glo en hoe jy jou keuses gaan maak. Sonde maak dat mense tot verskriklike dinge in staat is. Maar Jesus maak dat mense tot goddelike dinge in staat is. Sy Gees kan jou lei om nuut te wees. Soos strome lewende water te wees. Hy is die water wat jou nooit weer sal laat dors word nie. Hy is die lewende brood wat jou honger sal stil maak. Dood sal nog steeds oor jou kom, maar dit sal jou nie meer kan vashou nie. Swaar en seer sal daar wees, maar jy sal die lewende salf ken, die Gesalfde. Jy sal nog steeds gekonfronteer word met ekonomiese rampe, maar jou sekuriteit sal op ‘n ander plek wees. Daar sal steeds dinge kom soos vuuroonde soos in Daniël se lewe, maar jy sal die 4e een in die oond kan raaksien. Dit sal steeds voel of die dood op jou voorstoep kom staan soos met Job se lewe, maar jy sal soos hy kan sê:”Ek weet my verlosser leef.” Jy sal steeds soos Paulus en Silas in die tronk gegooi word, maar in die middernag lofliedere kan sing. Jy sal steeds jou kleinkind aan die dood afgee in die feesseisoen, maar kan vashou aan ‘n God van genade. Jy sal steeds vroeg oggend opstaan om te gaan treur by ‘n graf, maar die opgestane Here jou naam hoor roep. Dinge sal steeds kan skeefloop, maar jou oog sal gevestig wees op die Voleinder van jou geloof. Dit lê binne jouself om te kies wat jy gaan sien, wie se stem jy gaan hoor, wie se aanraking jy gaan voel, en wie se heling jy oor jou lewe gaan toelaat sodat jy weer sal kan sien.
0 Comments
Leave a Reply. |
Elke Sondag se boodskap hierElke Sondag preek iemand anders. Soms Gerrit, soms Gerhard. Ander kere is dit Dr Adre of Ds. Phil. Archives
May 2022
Categories |