"Ek is nie kreatief nie", hoor ek gereeld.
"Het jy vanoggend jou klere gekies wat jy aan het", vra ek dan, in die hoop dat ek nie 'n vreemde antwoord sal kry nie. Iets soos "Nee, my vrou het." Meeste van die tyd is die antwoord darem: "Ja, ek het." "Wel", antwoord ek dan: "Geluk! Jy is kreatief!" Daar is hierdie mite dat net sekere mense kreatief is. Mense wat kuns studeer het, of skrywers. Mense wat in Mellville of naby die SAUK woon. Die res. Wel, ons is nie kreatief nie. Hierdie leuen ontstel my diep, want die Here weet dat ons elkeen kreatief is. God is kreatief. Hy het alles gemaak. Alles. Hy het dit nie net gemaak nie, maar ook uitgedink. Genesis sê ons is na sy beeld gemaak. As jy dink jy is nie kreatief nie, dink jy ook God is nie kreatief nie. (Hier moet jy nou begin nadink oor die feit dat jy wel kreatief is) Daar is dus geen rede om te dink jy is nie kreatief nie. Hier is bewyse vir jou kreatiwiteit: 1.Jy het vanoggend jou klere gekies. Die feit dat jy nuwe kombinasies klere kies is as gevolg van kreatiwiteit. 2. Jy kies verskillende disse by 'n restaurant. Baie kreatief. Kritiek op kos is ook op 'n manier kreatief, want jy dink aan wat jy moontlik anders sou doen. Kreatiwiteit is orals - Moenie sê jy is nie kreatief nie. Dis net nie waar nie. 3. Jy ry verskillende roetes na ou bestemmings vir afwisseling - Klassieke teken van kreatiwiteit. Terwyl jy nuwe roetes probeer verdwaal sommer ook. Dis nie noodwendig kreatief om te verdwaal nie, maar dit het die potensiaal om groot avonture mee te bring. Nou dat jy weet jy is kreatief, geluk! Leef dit uit! Hou op jok dat jy nie is nie. God wil hê dat jy ander maniere van kreatiwiteit sal uitleef, en jy kan dit sommer by ons gemeente doen. Eerskomende Saterdag kom deel ons ons kreatiwiteit op verskillende maniere. Dit begin 10:00 en jy hoef dit nie te mis nie, want jy weet mos nou dat jy kreatief is.
0 Comments
Leave a Reply. |
Gerrit VisserGerrit is die gemeente se leraar en skryf gereeld oor die nuutste gebeure in die gemeente Archives
January 2022
Categories |