Eintlik is Nehemia 'n moeilike boek om te lees. Dit sluit af waar die volk belowe hulle sal nie ondertrou met ander volke nie.
Dit laat my wonder... Hoe ver is te ver as dit kom by uitnemendheid. Was God werklik so omgekrap met die manne en vroue van die volk Israel dat hulle nie gedurf kuier het by die ander volke nie? Was dit nie maar uit vrees dat hulle weer die beloofde land gaan moet verlaat as hulle nie die gebooie gehoorsaam nie, wat hulle gedryf het om so perfek te leef nie. Waar trek ons die lyn tussen uitnemendheid en Utopia. Utopia is 'n plek wat nie werklik bestaan nie, maar wat ons wens bestaan. Vir baie mense is die land waarheen hulle wil immigreer Utopia. Daardie plek, nie die een waarheen jy immigreer nie, maar Utopia, stel jou altyd teleur. Nehemia het ook nie Utopia gebou nie. In die NG Kerk bou ons ook nie Utopia nie. Dis onmoontlik. Wat ons eerder moet bou is gemeentes van uitnemendheid. Uitnemendheid beteken dat ek altyd my beste gee, maar nooit ten koste van verhoudings nie. Uitnemendheid beteken nie dat ek alles perfek hoef te doen nie. Dit beteken eerder dat ek moet seker wees ek gee my beste - ten alle tye. Wanneer uitnemendheid beteken dat alles in gemeentes perfek moet wees, is die einde gewoonlik in sig, en hier is 'n paar vrae wat ek soos pale in jou siel wil plant oor hierdie onderwerp: 1. As alles perfek is, het jy dan nog vir God nodig, of is jy amper op die punt om vir God te vertel hoe Hy Suid-Afrika en die NG kerk moet regeer? 2. As alles perfek is, waarvvoor bid jy in die aand? Waarvoor pleit jy? Hoe lyk jou gebedslewe? 3. As alles perfek is, hoe verduidelik jy die moontlike tragedies wat ander beleef? Dink oor hierdie vrae. Nehemia se een uitdaging was om mense wat heeltemal anders as hy nader aan hom te trek, en met goeie rede. Baie van hierdie "ander volke" wou hom verwoes. Miskien is die beste antwoord op die vraag oor uitnemendheid en die perfekte lewe weereens te vinde in die lewe van Jesus. "Wie van julle sal nie 'n kalf uit 'n put haal op die Sabat nie?" "Wie van julle sal vir jou seun 'n slang gee as hy brood vra?" "Het Dawid se manne dan nie op die Sabat brood uit die tempel geneem en geeet nie?" Alles belangrike vrae wat Jesus gevra het, waarop die Fariseers nie wou antwoord nie. (En ja, ek weet ek parafraseer die vrae) Miskien vra Hy vandag vir jou die volgende: "Is jou lewe so perfek dat jy nie meer in uitnemendheid kan lief he nie?" As die antwoord ja is, maak 'n plan hierdie lydenstyd en begin by Hom wat met jou praat en jou herinner om in uitnemendheid lief te he!
0 Comments
Leave a Reply. |
Gerrit VisserGerrit is die gemeente se leraar en skryf gereeld oor die nuutste gebeure in die gemeente Archives
January 2022
Categories |