Hy het net anderkant die hek gestaan met die verniet-koerant in sy hande. Hy het moeg neergesak teen die hek. Hy het gevra of ek die koerant by hom wil neem. Ek wou nie. Ek was te bang. Hy het ‘n masker aan. Ek ook, maar ek is bang. Ek dink ons almal is. Toe vra hy vir water, in die vorm van ‘n verklaring van nood. “Please, sir. I need some water.” Hy vra nie of ek het nie. Nie eintlik nie. Dis ‘n huis, daar sal seker water wees. Nee, hy het dit nodig. Hy is werklik dors. Een van die belangrikste vrae om oor na te dink aan die begin van 2021 het te doen met 2020. Watter impak het 2020 op my en omgewing gehad, en meer belangrik op my as mens. Dis so belangrike vraag dat dit ook gedien het as tema van ons eerste opgeneemde erediens vir hierdie jaar. 2020 het my verander. Ek was nooit bang om vreemdelinge by te staan nie. Diegene van julle wat my goed ken sal weet dat ek selfs voltyds met hawelose mense in die verlede gewerk het. Maar hierdie siekte het my ‘n vrees gegee vir die onbekende. En hier vra die man met verniet-koerant vir iets verniet – water. Ek antwoord sy versoek vir water met ‘n mooi antwoord. “I will be right back.” In ons gangkas staan gebottelde water en ek draf om vir hom te gaan haal. Buite gekom staan hy by die hek. Ek kan dit nie vir hom in sy hand gee nie. Dis te naby. Ek wys vir hom om terug te staan, en verduidelik dat ek dit bo-op die posbus teen die hek sal plaas. Hy staan terug en ek plaas die botteltjie water bo-op die posbus. Ek staan twee terug en hy stap op sy beurt nader en neem die water. “Thank you, sir.” Ek knik net. In een van Jesus se bekendste ontmoetings met iemand lees ons dat Hy ook dors was en by ‘n put water gesoek het. Wat sou volg is die verhaal van die vrou by die put in Samaria. Ons lees daarvan in Johannes 4. Jesus was ook dors. Het Hy dalk ook daardie dag water nodig gehad? Op ‘n ander plek het Jesus verduidelik dat wanneer ons goed aan ander doen ons dit aan Hom ook doen. Ek wens ek kon vir daardie man met die verniet-koerant meer as net verniet-water gee. Ek wens ek kon hom my hand en my glimlag gee. 2020 het dalk my gedrag verander, maar my hart is steeds bereid om te dien, en ek sal weer die masker kan afhaal. Hy ook. Ons sal dit almal weer kan doen. Wanneer ons kies om steeds in hierdie uitdagende tye vreemdelinge te dien en te help, kies ons vir iets wat Jesus ook verniet gegee het, en steeds gee. Lewende water. 2020 het ‘n impak op ons elkeen gehad, maar ons moet steeds tot die beste van ons vermoë ander dien. In daardie oomblikke van dienaar-wees wys ons dat ons die Een ken wat die lewende water verniet gee. Ek hoop jy het al van daardie water gedrink...
0 Comments
Leave a Reply. |
Gerrit VisserGerrit is die gemeente se leraar en skryf gereeld oor die nuutste gebeure in die gemeente Archives
January 2022
Categories |