Nege plekke waar Jesus gestop het - Deel 1 - WoestyneDaar is min plekke so stil soos ‘n woestyn. Min plekke so verlate. As jy alleen wil wees, is dit die plek om te wees. As jy wil seker maak jy weet nie wat in die wêreld gebeur nie, gaan woestyn toe. Vat ‘n bakkie en ry skedelkus toe in Namibië. Jy kan vergeet wat rondom jou aangaan.
As jy wil hê jou selfoon se opvangs tref ‘n muur en sterf, gaan woestyn toe. Net soos in die bybel se tyd, is ‘n woestyn vandag nog die plek van verlatenheid. Eensaamheid. Gaan net daarheen as jy bereid is om die stilte te trotseer. Stiltes. Ons sukkel met stiltes. Die stad help nie veel daarmee nie. Daar is altyd iets wat gebeur wat ‘n reaksie uitlok. Dit het tot gevolg dat die stiltes verloor. Stilwees verloor baie keer. As jy bereid is om ‘n woestyn te trotseer vir ‘n paar dae (sonder selfoon opvangs) sal jy agterkom dat jy besig is om te onthou hoe dit voel om jouself te vind. Ons vind onsself makliker in die stilte. Miskien is dit waarom die Woord sê: Ïn stil wees en wag is julle krag…” Dink daaroor vir ‘n oomblik voor jy verder lees. Nee, moenie verder lees nie… Dink weer… “In stil wees en wag is julle krag…” Dink weer daaraan. Laat toe dat God se Woord jou verander… Nou kan jy verder lees… Voor Jesus sy bediening begin is Hy vir veertig dae in die woestyn.Lees dit gerus in Matteus 4:1-11. Dis ‘n metafoor vir die pad van eensaamheid en uitdagings wat elke profeet moet beleef. Jesus, as die Seun van God, wys egter ‘n ander dimensie vir ons aan hierdie woestyn. Dis ook waar die versoekings lê. Jesus oorkom die versoekings in die eensaamheid, en daarom kan ons weet dat die uitdagings wat ons het oorkom kan word. In die Ou Testament moes daar gereeld ‘n profeet of twee vir veertig dae die woestyn in voor God vir hom uitkoms gee. Die woestyn waar Jesus stop leer ons dus hier nog iets. Dat die uitkoms lê in die eensaamheid. Paulus skryf ook hieroor: “Wanneer ek swak is, is ek sterk…” Ons hoef dus nie eensaamheid te vrees nie – Jesus was al daar… in die woestyn. Hy sal vir jou die uitkoms gee. Hy wat alles gemaak het, en Sy hande deur die stof van die woestynsand gevee het, roep jou nader in die woestyn en vat jou hand. Sy stilte in die woestyn is ‘n uitnodiging om jouself, en Hom beter te leerken.
0 Comments
Leave a Reply. |
Gerrit VisserGerrit is die gemeente se leraar en skryf gereeld oor die nuutste gebeure in die gemeente Archives
January 2022
Categories |