Die afgelope paar weke is ons gemeente besig met ‘n reeks met die titel ‘die vier plekke waar Jesus stop’. Die titel kan dalk vreemd klink, aangesien Jesus by baie meer plekke as vier gestop het. Ons fokus egter op vier ongewone plekke. Op 17 April het ons gekyk hoe Jesus by Matteus, ook bekend as Levi, gestop het. Hy sien sy potensiaal raak, waar ander bloot sy beroep raaksien. Hy was ‘n tollenaar, en ons almal weet hoe ons voel oor die e-tol stelsel. God kyk na die harte van mense, en ons moet ook. Jesus stop by ons elkeen se potensiaal en wil hê dat ons dit moet uitleef in die Koninkryk. Matteus verander van iemand wat oënskynlik vashou aan mag, na iemand wat dit deel wat hy het. Hy hou ‘n partytjie. Daardeur sien ons sy gasvryheid. Hy wil deel, maar het nooit geweet hoe nie. Jesus stop by hom, en sy lewe is nooit weer dieselfde nie. Jesus stop by hom, wat waarskynlik gesit het, en plaas hom in beweging. Wanneer ons besef dat Jesus daagliks by ons potensiaal stop en wil sien dat ons dit uitleef, kan ons in bewging kom. ![]() Die afgelope Sondag het ons gekyk na Jesus wat stop by die vrou wat betrap was waar sy owerspel pleeg. Eintlik was Jesus besig om in die tempel te leer terwyl die Fariseërs, mense wat sê dat hulle God ken, haar daar ingebring het. Hulle wou haar met klippe doodgooi, aangesien dit die toepaslike straf was volgens die wet van Moses. Het jy al ooit gesien hoe lyk dit as mense klippe optel en ander met dit begin gooi. Waar ‘n kruisiging ‘n manier van doodmartel is waar jy die persoon ophang en kan wegstap, is ‘n steniging met klippe anders. Dis ‘n oomblik van geweld wat almal klippe gooi tot die persoon dood is. Hulle loop nie weg tot hulle klaar is nie. In daardie oomblik van geweld, skryf Jesus in die sand. Dis asof Hy homself uit die situasie haal, juis omdat Hy nooit opgesweep word deur mense nie. Hy is buite die kere wat ons opgesweep raak oor enige iets. Hy is God, daarom kan Hy die regte oordeel gee. Wat is Sy oordeel? Laat die een wat sonder sonde is, die eerste klip optel. Niemand het nie. Sy oordeel is genade. Hy het bloot verder geskryf in die sand, afgesonder van die situasie, en toe Hy opkyk was almal weg, en die vrou was nie veroordeel deur Hom nie. Sy oordeel oor jou lewe is dieselfde. Sy oordeel is genade. Mag jy dit vandag weet. Eerskomende Sondag is die tema ‘Jesus stop by jou familie'. |
Gerrit VisserGerrit is die gemeente se leraar en skryf gereeld oor die nuutste gebeure in die gemeente Archives
January 2022
Categories |